Luister: ‘Die boere sal nooit weer wyk van die Here se hand nie’

Vyf van Suid-Afrika se grootste manstemme – Adam Tas, Chris Chameleon, Ghapi, Juan Boucher en Christoph Kotze, beter bekend as Appel – het onlangs die klankgolwe getref met ʼn roerende Afrikaanse vertaling en toonsetting van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers in Hollands geskryf is.

Die Gelofte is op 16 Desember 1838 deur die Voortrekkers afgelê voor die Slag van Bloedrivier. Dit is afgelê by Wasbankspruit – só genoem omdat die Voortrekkers hulle wasgoed daar gewas het.

Die Gelofte is elke dag vir sewe dae vanaf 9 Desember 1838 tot en met 15 Desember 1838 afgelê, waarna God op ‘n wonderbaarlike wyse uitkoms verleen het aan die Voortrekkers op 16 Desember 1838 tydens die Slag van Bloedrivier.

“Wat die Gelofte basies vir ons sê is dat die boere nooit weer sal wyk van die Here se hand af nie, want dit is deur Hom wat die boere daardie dag by Bloedrivier triomfeer het,” vertel Appel in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Appel het saam met Johan Vorster, bekende liedjieskrywer en vervaardiger, die Gelofte getoonset. Vorster was saam met ʼn vriend in die Oos-Vrystaat en daar het hy op die Hollandse weergawe van die Gelofte afgekom.

“Ek en Johan het die hele dag by die klavier gesit en gewonder hoe ons dié ding gaan laat sing,” sê Appel. “Dit is ʼn ongelooflike stuk en jy moet dit tot sy volle reg laat kom met die musiek wat jy byvoeg. Ons het dit toe reggekry om die Gelofte te toonset vir die eerste keer in 180 jaar.”

Appel op die verhoog. (Foto: Facebook)

Appel op die verhoog. (Foto: Facebook)

Appel sê hy glo vas daar is salwing op die woorde van die Gelofte. “Die lied het ongelooflike trefkrag.”

Volgens Appel het die lied gekom in ʼn tyd wat baie Afrikaners hoop nodig het. “Dit is ʼn gebed. Ek dink dis hoekom soveel mense aanklank kan vind daarby, want bitter min mense wéét werklik wat in die geskiedenis gebeur het. Ek en Johan het dit getoonset en die saadjie geplant, maar die Here het die res van die werk gedoen.”

Hy glo die vyf manne wat die stemme aan die lied verleen, het elkeen ʼn ‘stem wat skrik vir niks’. “Johan het gekies wie op die lied moet sing en ek was net bevoorreg genoeg om deel te wees daarvan. Adam is die boeredigter wat ʼn figuur is in die boeregemeenskap, so wie beter om die lied mee af te skop as met hom? Chris Chameleon is ʼn ongelooflike welbelese mens wat die Afrikaanse taal van hoek tot kant ken. Hy het volgens my die beste manlike stem in ons bedryf – die hoë note wat hy tref in die koorgedeelte is fantasties. Ghapi en Juan pas ook net in, jy weet, toevallig wérk alles net.”

Die vyf kunstenaars wat op die lied te hoor was, het mekaar nie tydens die opname van die liedjie gesien nie en dit was eers met die verfilming van die musiekvideo by Railways Café in Pretoria waar hulle almal byeengekom het.

“Elke kunstenaar het ook sy eie liedjie op die Gelofte-album en dan het hulle sommer hulle stukkies van die liedjie opgeneem wanneer hulle in die ateljee was en so is die legkaart aanmekaar gesit,” verklap Appel.

“Vir my was die skiet van die musiekvideo ʼn ongelooflike ervaring. Ek is nog redelik jonk in die bedryf as sanger en nie noodwendig as skrywer nie, en om saam met al hierdie groot geeste in een vertrek te sit om dié massiewe lied te doen, was ʼn hoendervleisoomblik.”

Die musiekvideo is deur Forum Films geskiet en vervaardig.

Die Gelofte is op alle digitale platforms beskikbaar.

Die lirieke van die lied:

Hier staan ons voor die Heilige God van die hemel en die aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Erfenis ·

Baie dankie julle. Ek lees nou ‘n boek oor die Voortrekkers en dit laat my net weer besef ons het ‘n Erfenis

Joel Hitchcock ·

Wat ‘n pragtige musiekweergawe van die Gelofte. Ons woon in die buiteland en het nog elke jaar nog Geloftedag hier gehou.

waarheid ·

Ek is sooo trots op my geskiedenis en niemand kan dit ooit wegneem nie!!!
Elke jaar herdenk ek Gelofte Dag – vir my bly dit Gelofte dag!

Deon Taljaard ·

Net jammer dat die vertaling so swak gedoen is want die oorspronklike gelofte praat van ñ volk wat as kerk gestig gaan word en nie ñ klip of baksteen gebou nie.

Josef du Toit ·

Sien in hierdie verband https://proregno.com/2017/12/05/die-oerteks-van-die-lotsbepalende-1838-gelofte/

Hier staan ons, as broers en landgenote, voor U onse Vader, die heilige God van hemel en aarde, om ‘n Gelofte aan U te doen, dat, as U ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons ‘n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van U Naam sal verheerlik word deur die roem van oorwinning aan U te gee. Ons smeek U bystand af om hierdie Gelofte verseker te kan volbring, in die Naam van U Seun en ons Verlosser, Jesus Christus. Amen.

Ellisras ·

Hoeveel mense wat hulself Afrikaners noem hou nog die Gelofte. In Ellisras het jy ‘n keuse van seker 6 of 8 plekke waar jy jou Gelofte kan nakom. Maar dit is nie orals so nie. Durf jy jouself ‘n Afrikaner noem as jy nie jou Gelofte nakom nie.

Marthinus Willemse ·

Wanneer ons sê “(d)ie boere sal nooit weer wyk van die Here se hand nie”, moet ons net versigtig wees dat ons nie te arrogant raak nie. God het die Joodse volk oor die aarde versprei omdat hulle nie nederig wou bly nie.

jean ·

Geloftedag….n belofte aan God gedoen……in ons kerk slegs bejaardes…kinders oorsee geen benul of behoefte aan dit wat belowe is nie…laat ons onthou en pleit dat Hy ons nie vergeet……want ons het ons eie pad geloop en tot ons nadeel……

George Petzer ·

Boer/Afrikaner? Sing die lied van God se beskerming uit volle bors! Dit is tyd dat ons die belofte weer sal onthou om God die eer te gee. Keer terug na God.

“As my volk wat deur My Naam geroep is, nederig tot my bid, hulle bekeer van hulle verkeerde wee, dan sal Ek hulle weer heel
maak en hulle land genees…” Dit is tyd om ernstig te bid en onsself te bekeer, heeltemal weg te draai van ons goddelose leefstyle en gewoontes en die knie te buig en ons hele lewe, familie en besittings,oor te gee aan God, in Jesus naam!

Ansie ·

Is idt nie dalk tyd dat ons hierdie gelofte aanpas vir ons huidige toestand in Suid Afrika nie? Ek is seker as ons ‘n soortgelyke gelofte aan die Here afle vir beskerming van ons boere sal die Here ons nie faal nie, maar mense soek nie meer die Here se aangesig vir beskerming nie. Ons geloof het swak geword.

waarheid ·

Dit is nie nodig om ‘n Gelofte te probeer aanpas nie – dit is onaanpasbaar.
Dit is soos dit is – indien nie van toepassing op jouself nie – ignoreer dit.
Jy verander nie die Gebooie nie – daarom ook nie ‘n Gelofte nie.
Ek staan, eerbiedig en eer die Gelofte soos dit is.

Johann ·

Wat beteken dit dat jy die een dag in ‘n jaar “… soos ‘n Sabbat sal deurbring” indien jy Sondag na Sondag weier om kerk toe te gaan? As jy Sondag na Sondag jou weeklikse inkopies gaan doen? As jy Sondag na Sondag lekker by ‘n restaurant gaan eet, en sodoende ander van die Sabbat ontneem? Die Rusdag is deur God self ingestel, en mag nie nagelaat word nie. Die Geloftedag is deur mense ingestel om die patroon van die Rusdag te volg. Wanneer ons dus die Gelofte vier sonder om dienooreenkomstig Sondag na Sondag in die kerk te wees, verhef ons ‘n instelling van mense bo die instelling van God.
Wat baie mense vergeet, is dat ons voorouers ‘n Gelofte afgelê het om op ‘n sekere manier op te tree. God het nie met die Voortrekkers, Boerevolk, Afrikaners, noem dit wat jy wil, ‘n Verbond gesluit nie. Ons voorouers het hierdie verpligting eensydig op hulself en hul nageslag gelê.

Suzette Geringer ·

Uitmuntend!!!! Laat my trane in die oë kry. Pragtig manne!

Leon ·

Ek is trots Afrikaner, en Geloftedag, 16 Desember is deel van my volk se ERFENIS, en niemand kan dit weg vat nie, alhoewel net van die ouer garde weet waaroor dit gaan, is dit ieder en elk van ons se plig om dit aan on nageslag oor te dra en die betekenis en waarde daarvan, anders sal dit alles tevergeefs saam met ons sterf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.