Luister: ‘Die gawe om engele te kan sien’

Esté en Lourens Rabé. (Foto: Nelis Engelbrecht)

Esté en Lourens Rabé. (Foto: Nelis Engelbrecht)

Lourens en Esté Rabé, die egpaar wat onder aanhangers beter bekend is as Bottomless Coffee Band, het onlangs hul tweede vollengte album uitgereik en het reeds gehore landwyd gaande met dié jongste uitreiking.

Dié folk-rockgroep het die album Anthelia gedoop nadat Lourens dié Griekse woord vir “die gawe om engele te kan sien” raakgelees het en só daardeur geïnspireer is dat hy daar en dan ʼn liedjie daaroor neergepen het.

“Dit gaan daaroor om die mooi in almal raak te sien,” verduidelik Lourens. “Saam met die Engelse liedjies het ons met hierdie album ook ons hand vir die eerste keer aan Afrikaans gewaag, daarom wou ons ʼn universele term kies vir die naam van die album.”

Die album beskik oor 11 oorspronklike snitte uit die talentvolle paar se pen. Oor die Afrikaanse liedjies in die album, “Ek sal wag” en “Lig wat skyn”, is albei baie opgewonde.

“Ons het aanvanklik in Engels begin sing want ons het gedink dit is divers en ʼn mens kan dit baie verder neem, al is jou moedertaal Afrikaans,” vertel Esté. “Ons het by al die Afrikaanse feeste met die eerste album, Room with a View, opgetree, want die vertoning word in Afrikaans aangebied al is die musiek in Engels.”

Sy vertel hoe ʼn braai op ʼn dak in België hulle weer herinner het “hoe deel ʼn mens se moedertaal van jou identiteit is”.

“Ons het saam met die Belge gesit en kuier toe die gasheer vir ons ʼn kitaar bring en vra om asseblief vir hulle een van ons Afrikaanse liedjies te speel. Ons het toe baie sleg gevoel om vir hom te sê ons sing nie regtig in Afrikaans nie,” lag sy.

“Ons improviseer toe ʼn weergawe van Laurika Rauch se “Stille waters” en dit kom toe so mooi uit dat almal bewoë was. Ons het toe net weer besef dat ʼn mens se moedertaal vir jou ʼn ander soort konneksie gee met iemand. Vandaar het ons besluit ons moet probeer om in die nuwe album Afrikaans in te bring.”

Lourens is reeds van ʼn jong ouderdom ʼn ywerige musikant wat homself leer kitaar en tromme speel het. “Ek het ʼn rock-agtergrond en bespeel tydens ons vertonings voettromme, gewone tromme, akoestiese en elektriese kitaar, banjo en bekfluitjie.”

Die groep is dit eens dat die album “goedvoel”-musiek bevat, maar dat dit belangrik is vir mense om ʼn boodskap uit die musiek te neem.

“Ons wil altyd ʼn diverse album uitreik sodat dit ʼn wye gehoor kan bereik en dat dit iets is vir almal. Esté se agtergrond is meer klassiek met ʼn klein bietjie country. Sy bespeel die ukulele, ukulele-bas, trekklavier, elektriese baskitaar, klavier en die kazoo. Ons het die middeweg gevind deur Bottomless Coffee Band ʼn folk-rockgroep te doop. Ons kan verskillende klanke by verskillende liedjies sit en dit gee heeltemal ʼn ander gevoel aan die liedjie. Ons het geëksperimenteer met verskillende style en dit word goed gereflekteer.”

Die album is vervaardig deur Theo Crous van Springbok Nude Girls-faam. “Theo is hierdie magiese figuur in die musiekwêreld. Al die musiek waarvan ons hou is deur hom vervaardig – Karen Zoid, The Parlotones…” noem Lourens op.

“Hy is so ʼn gemaklike persoon en het die beste in ons uitgebring wat die musiek betref. Hy was ook baie hard op ons,” lag Esté. “Hy sal sê: ‘Nee, daai is nie goed genoeg nie, gaan oefen dit in en kom dan terug.’ Hy het ons nederig gehou en ons het so baie by hom geleer.”

bottomless coffee bandDie Rabé’s het albei in korporatiewe omgewings gewerk totdat die aanvraag na hul musiek landwyd só groot geword het dat hulle besluit het om hul aktetasse te verruil vir ʼn lewe op die langpad. “Dit was ʼn angswekkende stap aan die begin,” vertel Lourens.

“Ons het in die week kantoor toe gegaan en net oor naweke in die Wes-Kaap musiek gemaak. Mense het toe uit alle oorde van die land begin vra na ons musiek en ons besluit dat ons moet begin toer. Aanvanklik het ons verlof geneem en uiteindelik moes ons begin onbetaalde verlof vra en toe raak ons só besig dat ons nie meer die voltydse werke kon volhou nie. Ons het die sprong geneem om ons passie te volg en hier is ons, twee en ʼn half jaar later.”

Oor die splinternuwe musiekvideo vir “Ek sal wag” is Esté baie opgewonde. Die liedjie is gebore tydens ʼn reis na Engeland en is deur Esté geskryf in ʼn Londense koffiewinkel. “Lourens was besig om kitare te toets in die bekende Denmarkstraat. Hy kan homself vir ure besig hou, maar ek raak verveeld. Terwyl ek wag in die koffiewinkel, wat nie wifi gehad het nie, kom sit daar ʼn vreemdeling baie naby aan my op die sypaadjie. Daar was net ʼn venster tussen ons.”

Sy het van die oomblik gebruik gemaak om haar te inspireer en sê hulle wou die gevoel van die koue, grys Londense dag in die musiekvideo vasvang. “Ons is baie keer so naby aan mense, skouer aan skouer, maar steeds is daar nie kommunikasie nie.”

Anthelia is by alle groot musiekhandelaars en op alle digitale platforms beskikbaar. Besoek die groep se Facebook-blad vir besonderhede oor toerdatums en vertonings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.