Luister: Die Heuwels draai die volume op met jongste album

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Die Heuwels Fantasties het die afgelope twee jaar drie albums uitgereik, waarvan die jongste album getiteld Volume onlangs die lig gesien het.

In 2020 het hulle tydens die inperking die albums 2021 en Herverbeel uitgereik, wat groot treffers soos “Ons moet leef” saam met Ampie, “Mejuffrou Sonneblom”, “Jy stel my teleur” en “Hardloop weg” opgelewer het.

Die jongste album bevat agt snitte, waarvan die eerste enkelsnit, “Eggo”, saam met Danie Reënwolf van Spoegwolf, reeds ʼn gewilde treffer is onder Afrikaanse musiekluisteraars.

Dié liedjie verskyn tans op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die vierde posisie nadat dit in Oktober in die 17de plek op dié treffersparade gedebuteer het.

Volgens Pierre Greeff, voorsanger van die groep, wat saam met Fred den Hartog in die Maroela Media-ateljee gekuier het, vind die liedjie aanklank by soveel mense omdat dit handel oor ʼn tema wat uit “ʼn egte plek” kom.

“Ek het ʼn vriend verloor in die tydperk wat ek die liedjie geskryf het en ek dink soveel mense het die afgelope tyd rou ervaar – al was dit nie deur iemand te verloor nie, dalk het jy net die lewe soos wat jy dit geken het voor die pandemie verloor. Die liriek tref mense, want hulle kan daarmee vereenselwig en deel maak van hulle lewens.

“Uit die terugvoer wat ons op sosiale media en by vertonings kry, lyk dit asof die liedjie mense diep raak,” sê Greeff.

“Ek het die demo vir Danie aangestuur en hy het dadelik daarvan gehou. Ons wou nog altyd saam werk en hy het ingekom na die ateljee om sy versie te skryf. Ek dink sy gedeelte het soort van gesê wat ek nie kon nie en dit is gewoonlik hoe dit gaan met samewerkings, ons voltooi mekaar se sinne op ʼn manier.”

Die liedjie “Hoor jy my” se lirieke is geskryf deur Jani Greeff, Greeff se vrou, en hy het die liedjie getoonset. “Die liedjie handel ook oor die kloustrofobie wat ʼn mens ervaar het tydens die inperking, wat ook iets is waarby mense kan aanklank vind. Ons probeer gewoonlik musiek maak met temas wat mense al beleef het, en ons maak op daardie manier sin van ons eie lewens.”

Die album bevat ook snitte getiteld “Werk vir ʼn lewe”, “Okay, fine”, “Goeiemore Suid-Afrika”, “Bellville”, “Hardloop weg 2.0” en die Engelse snit getiteld “Days Are Dark”, saam met ʼn nuweling-kunstenaar, Sakkie.

“Sakkie het my huis gebou en was nog altyd ʼn tjommie van ons van Kaapstad. Hy het nog altyd die droom gehad om musiek te maak, maar dit was nooit goed nie. Hy het my toe genader met hierdie liedjie wat hy geskryf het en Johnny [de Ridder] het hom toe gehelp om dit te verwerk, waarna ek en Hunter [Kennedy] hom gehelp het om die melodie en lirieke te voltooi,” vertel Den Hartog.

“Die liedjie het toe baie goed uitgekom en aangesien ons voorheen een of twee Engelse liedjies gemaak het, het ons besluit om hierdie een in die album in te sluit. Dit het ʼn 80’s-gevoel, en dit klink asof mense daarvan hou.”

Volume is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige ateljeeonderhoud.

Kyk hier na die musiekvideo van “Eggo”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.