[Luister] Die oomblik toe Jacobus Silwer sy ‘wegkruipplek’ ontdek het

Jacobus en sy vrou, Lizame (Foto: Facebook)

ʼn Oomblik kan alles verander. Om die waarheid te sê, ʼn enkele gebeurtenis het dikwels meer mag as ʼn swaard.

“Genade vir Afrika” – ʼn liedjie uit die pen van die sanger Jacobus Silwer – was dié oomblik.

“Een oomblik is jy iets, en die volgende is jy iets anders. Dít alles deur ʼn enkele oomblik wat jou inherent as mens verander het. En daar is nie terugdraaikans nie – die see het oor jou spore gespoel; jy is nooit weer dieselfde nie. ‘Genade vir Afrika’ was dié oomblik in my lewe. God het iets in my binnekant kom verander, en ek as mens kan nooit weer wees soos ek voorheen was nie.”

Ons ontmoet in ʼn besige buurt in Pretoria. Die lang man met die baard se handdruk is ferm en sy oë vriendelik toe ons die ateljee binnestap.

“Genade vir Afrika” is wyd gedeel en baie positief deur die Afrikaanse luistergehoor ontvang. “Ek het aan die liedjie begin skryf voordat die ergste droogtegreep die land begin wurg het. Nou, met die onlangse droogtes, spreek dit net nóg harder,” vertel hy. “Dit is egter nie al betekenis wat die liedjie dra nie. Dit gaan oor droogtes in mense se lewe. Dis ʼn metafoor vir almal se seer en eensaamheid ook. Dalk is dit hoekom mense so daarmee vereenselwig het.”

Dié lied het iets in hom wakker gemaak en verander, vertel hy. “Die liedjie het my binnekant verander. Ek het besef ons mense is vir mekaar geskape, en nie vir onsself nie. Ek wou hê die Here moet my gebruik deur my sang. Ek het myself nooit voorheen as gospelsanger gesien nie, maar as ek eerlik moet sê, deesdae dink ek nie meer ek kan iets skryf sonder om geloof daaraan te haak nie. Dis absoluut net iets wat jou oorneem.

“Ek het die positiewe reaksie op die liedjie glad nie verwag nie. Om die waarheid te sê – toe ek die liedjie begin skryf, het ek nie een keer gedink om dit ʼn gospelliedjie te maak nie. Ek dink ‘Genade vir Afrika’ was ʼn gereedskapstuk van die Here om my hier te sit waar ek vandag is.”

Jacobus Silwer (Foto: Facebook)

Die sanger het onlangs sy jongste enkelsnit, “Wegkruipplek”, vrygestel. Dié liedjie is deel van die Judias Iskariot-verhoogproduksie wat by die San du Plessis-teater te sien was. Die sanger het ook sowat dertien ander liedjies vir dieselfde produksie geskryf.

ʼn Musiekvideo vir die liedjie, waarin die sanger saam met sy vrou te sien is, is ook reeds uitgereik.

“Ek wou iets skryf wat mense kan verstaan – dit moes nie vir ʼn klein groep mense gewees het nie, maar iets universeel wat tot talle mense spreek. Dit gaan inherent oor Judas [Iskariot] en ons as mens se skuldgevoel. Jammersê is nie genoeg nie, iets wat gesê of gedoen is maak steeds skade. Ons kan net terugstaan en kyk na die invloed wat ons woorde of dade op iemand het, en dan soek ons as mens ʼn wegkruipplek. Die liedjie vra die gewetensvraag: Sou jy graag iets uit jou verlede wou wegvat, oordoen, verduidelik? Die boodskap is dan om uiteindelik gesond te word, die Here te vind en om vrede te kry.”

ʼn Album volg binnekort, hoewel Jacobus nie haastig is met die vrystelling daarvan nie. Hy beplan egter om ʼn DVD te maak van sy optrede by die Aasvoëlklub tydens die Vrystaat Kunstefees.

“Ek is dankbaar dat ek kan sing, en selfs nog meer dankbaar dat mense daarna luister. As my liedjie vir een mens iets kan beteken, is dit meer as genoeg. Ek hoop mense geniet die nuwe musiek en ontvang die boodskap daarvan. Musiek is immers ʼn boodskapper,” sê hy.

Vir meer inligting, besoek Jacobus Silwer se Facebook-blad. Bespreek ook kaartjies vir die Aasvoëlklub op Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.