Luister: Die verskillende kante van veelsydige Christia Visser

Christia Visser.

As kind het Christia Visser al geweet sy wil sing, maar dit was haar loopbaan as aktrise wat eerste vlamgevat het nadat sy die land laat regop sit het as Lena in die 2015-verwerking van die rolprent Ballade vir ʼn enkeling.

Intussen het sy aanhangers van die gewilde kyNET-reeks Fynskrif se harte gesteel as Adéle, oftewel die Toebroodjie-meisie, die geliefde karakter se bynaam.

Nou word nog een van haar drome óók bewaarheid: ʼn Debuutalbum getiteld Gemaklik verlore, waarvan die meeste snitte uit haar eie pen is, word eersdaags uitgereik. Boonop is die eerste drie enkelsnitte vanaf dié album reeds groot treffers, met “17 shots” en “Die deur” wat albei goue status bereik het.

Die enkelsnit, “Kaal voor jou”, is onlangs uitgereik en pryk al etlike weke lank op die Maroela Media Afrikaanse Top-20. Visser het dié liedjie geskryf om op die paadjie na die kansel af te stap. Visser en haar aanstaande, Thomas Webb, het in April 2019 verloof geraak en sou vanjaar in April trou.

Sy beplan egter nie om haar loopbaan as aktrise prys te gee nie, verduidelik sy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Christia Visser.

“Sang is bloot iets wat ek tot my loopbaan toevoeg. Die twee gaan goed saam – met die een kan ek my emosies deur my toneelspel uitdruk en met die ander een is dit werklik ek, dit is Christia in my liedjies. Ek is eerlik daaroor dat die goed waaroor ek skryf baie persoonlik is.

“Dit is twee verskillende kante van myself wat ek met mense kan deel. Ek hou nogal daarvan dat mense na ʼn liedjie luister en sê: ‘O, dis die Toebroodjie-meisie.’ Dit beteken mense sien verskillende kante van my en waardeer dit.”

Haar jongste enkelsnit, “Wildste oomblik”, is pas uitgereik en handel daaroor dat jy op enige gegewe oomblik van jou lewe op die randjie van jou wildste drome staan.

“Dit kan jou beste of slegste herinnering wees, maar dis ʼn kans wat jy moet waag. Dit gaan daaroor om die eerste treë na die volgende oomblik van jou lewe te gee. Dit is ʼn wye prentjie, maar vir my persoonlik.

“Ek sukkel byvoorbeeld met sosiale angstigheid en om met mense in groot groepe te kommunikeer en tog is ek in die beroep waarin ek is. So, soveel van die goed wat ek in my lewe doen, verg van my om by die krans af te stap. In die proses het talle van my grootste oomblikke en wildste drome waar geword,” vertel sy.

Gemaklik verlore het tien snitte op en Visser verklap dat die album “een of twee verrassings het wat mense nie van my sal verwag nie”.

“Daar is beslis ʼn deurlopende, kenmerkende klank, maar elke liedjie is spesiaal op ʼn ander manier en is geskryf oor iets wat vir my baie beteken. Mense wat van die eerste drie vrystellings gehou het, sal beslis hou van die album en aanklank vind daarby,” sê sy.

Christia Visser.

“Die album is ʼn blik op ʼn fase in my eie lewe. Ek skryf self die lirieke oor wat ek met mense na aan my deurmaak, en ek kom self met die temas vorendag. ʼn Mens skryf makliker as jy ongelukkig is, want as jy gelukkig is, leef jy meer. Tog is hierdie een van die grootste jare vir my, ondanks die Covid-19-pandemie, want dit is ook die jaar waarin ek my debuutalbum vrystel én met die liefde van my lewe gaan trou.”

Die album word op 7 Augustus saam met ʼn splinternuwe musiekvideo vir “Wildste oomblik” uitgereik. Die musiekvideo vir “17 shots” is reeds meer as 3,1 miljoen keer op YouTube gekyk, terwyl “Die deur” meer as 1,5 miljoen kykbeurte op YouTube het.

“Ek is mal daaroor om musiekvideo’s te maak, want dit is vir my waar die musiek en toneelspel trou en ek is gaande daaroor. My vorige twee musiekvideo’s het goed gevaar – [die regisseur] Uga Carlini het ʼn ongelooflike brein as dit kom by hierdie goed en haar idees is ongelooflik.

“Die konsep van die video vir ‘Wildste oomblik’ is ligter as die vorige twee video’s. Die ander twee het ʼn storielyn van begin tot einde, waar hierdie een ook ʼn storie is, maar dit word op ʼn ander manier uitgebeeld. Vir my was dit ʼn pret-een om te skiet, want ek kon eintlik net mal gaan.”

“Wildste oomblik” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms. Luister nou na die liedjie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.