Luister: Douvoordag onderneem avontuur met debuutalbum

Die egpaar Ilse en Jattie de Beer maak al bykans ʼn dekade saam musiek en hul lankverwagte debuutalbum, Die Avontuur, het uiteindelik die musiekwinkelrakke getref.

Dié album, wat 14 snitte uit Jattie se pen bevat, het vier jaar geneem om te skryf en te vervaardig. Die De Beers is dit eens dat hul harde werk vrugte afgewerp het, aangesien die album in ʼn kort tyd na sy uitreiking die nommer 1-posisie op iTunes behaal het.

“Dis altyd wonderlik as jou musiek goed doen op die treffersparades, want dit beteken mense luister daarna. Al wat ons wil hê, is dat ons musiek mense moet bereik sodat dit hulle kan inspireer en hoop gee, en hulle harte kan aanraak,” vertel Ilse in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Jattie beaam dit. “Daar is ʼn storie agter musiekmaak. Vir ons was die pad om dié album te voltooi ʼn langer pad as gewoonlik, meestal omdat ons liedjies so persoonlik is. Na vier jaar is dit lekker om die musiek met mense te deel en die terugvoer wat ons kry, maak dit die moeite werd en is vir ons baie bevredigend.”

Die naam van die groep, Douvoordag, simboliseer ʼn nuwe begin, sê Jattie. “Dit simboliseer die gevoel van varsheid wat jy kry as jy in die oggend opstaan. Ek het drie jaar gelede my werk bedank om meer aandag aan die musiek te gee en daaruit het die avontuur gespruit. Ek wou my lewensfilosofie verander, en het besef mens hoef nie so eng te wees en vasgevang in die vrees vir die onbekende nie.”

Dié nuwe lewensuitkyk het ook die saadjie geplant vir die liedjie “Manifes”, wat die eerste enkelsnit vanaf die album is.

Jattie en Ilse de Beer. (Foto: Verskaf)

Jattie en Ilse de Beer. (Foto: Verskaf)

“Die liedjie is ook ʼn produk van ons storie. As jy ʼn manifes skryf, is dit jou beginsels wat jy neerlê en ʼn belofte wat jy aan jouself maak. ‘Manifes’ is geskryf as ons belofte aan onsself dat ons nie bloot tevrede gaan wees met ʼn gemaklike bestaan nie, maar eerder ʼn betekenisvolle lewe gaan probeer lei. Dit beteken jy het dalk nie so baie geld in die bank nie, maar jy kan terug kyk op jou lewe en sê dit was vol vreugde. Die liedjie is ons belofte aan onsself om altyd die dinge wat belangrik is na te jaag.”

Die snit “Vir Ren” is vir hul seuntjie geskryf. “Die lirieke van die lied is seënbede wat ons oor hom uitspreek,” verduidelik Ilse. “Ons vra dat goedheid en guns hom sal volg al die dae van sy lewe.”

Die musiekvideo vir “Manifes” is deur White Motion Films geskiet op ʼn koppie op ʼn plaas naby Potchefstroom. “Ons het eintlik nie ʼn plan gehad vir die video nie. Ons het wel geweet ons wil in die laaste uur van die daglig skiet, omdat die lig dan baie mooi is. Dit was baie lekker om saam met Ian van White Motion te werk, want dit was so ʼn gemaklike proses.”

Ilse en Jattie kom albei uit musikale families en sing sedert hul skooldae. Ilse was ʼn lid van die Stellenberg‑meisieskoor, Pro Cantu‑jeugkoor en die Stellenbosch Universiteitskoor, terwyl Jattie in die Affies‑seunskoor en Tukkies se Camerata-koor gesing het.

Jattie is ook vier jaar agtereenvolgens bekroon met die prys vir Beste Oorspronklike Komposisie tydens Tukkies se jaarlikse serenade-kompetisie. Jattie en sy groep Vertikaal het in 2009 ʼn SAMA vir hul tweede album, Stil, gewen.

Die Avontuur is op alle digitale platforms en by groot musiekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.