Luister: Droomsindroom se musiekdroom bewaarheid

Droomsindroom. (Foto: Verskaf)

Etlike maande gelede het die broer-duo Kirsten en Kyle Schlebusch, beter bekend as Droomsindroom, ʼn lusmaker van die liedjie “Hey sonneblom” op TikTok gedeel.

Die reaksie op dié liedjie was so groot dat hulle besluit het om dit op te neem en uit te reik as ʼn volwaardige enkelsnit – en vandag is dit een van die grootste Afrikaanse treffers wat vanjaar die klankgolwe getref het.

Nie net verskyn die liedjie in al wat ʼn Afrikaanse treffersparade is nie, maar is die musiekvideo van die liedjie ook al byna 500 000 keer op YouTube gekyk.

Die broers hou egter vol dat hulle nie die sukses van “Hey sonneblom” verwag het nie.

“Francois van Coke het vir ons die raad gegee om ʼn TikTok-rekening te skep en ons het ʼn baie swak lusmaker van die liedjie daar gedeel. Die reaksie daarop was verbysterend en toe ons dit uitreik het ons lewens heeltemal verander,” vertel die broers in die Maroela Media-ateljee.

“Ons wou ʼn goedvoel-liedjie skryf en mense het aanklank daarby gevind.”

Kirsten en Kyle van Droomsindroom in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die musiekvideo vir “Hey sonneblom” is op Mooinooi in Noordwes geskiet. “Ons wou iets heeltemal anders doen met dié video en ek dink ons het daarin geslaag,” sê Kirsten.

“Ons wou iets doen wat ons persoonlikhede vasvang. Dit was vir ons belangrik om pret te hê, want dit is wie ons is.”

Die duo se splinternuwe enkelsnit, “Afrika son”, is vandag (Vrydag) uitgereik. Volgens die broers wou hulle ʼn liedjie skryf wat eg Suid-Afrikaans is.

“Ek het die liedjie op ʼn plaas geskryf waar die sonsondergang my daaraan herinner het dat ons almal ons eie stryd voer en frustrasies het, maar dat ons almal dieselfde mense is onder dieselfde Afrika-son.”

Die musiekvideo is op Loftus Versveld in Pretoria geskiet. “Die stadion is ʼn ongelooflike spasie waar jy kan aanvoel dat legendariese dinge al daar plaasgevind het. Ons wou daardie gevoel met die video vasvang. Ons het ook in ʼn regte taxi gery, want dit speel so ʼn groot rol in ons samelewing.”

Om pret te hê is ʼn deurlopende tema vir Droomsindroom. “Ons neem onsself nie te ernstig op nie. Ons doen net ons ding en ons weet mense gaan daarvan hou.”

Hulle eerste kortalbum getiteld Aansteeklik sien op 16 September die lig. “Die album vang so mooi vas wie ons is as mense en as kunstenaars. Die liedjies het almal ʼn dieper betekenis, maar word so verpak dat mense daarmee kan vereenselwig.”

Hulle vertel hulle is veral opgewonde oor die liedjie “Kopskud revolusie”, wat saam met die groep Spoegwolf opgeneem is.

Droomsindroom. (Foto: Verskaf)

“Ons het ook ʼn bietjie rock ’n roll in ons, net soos Spoegwolf. Daar het ʼn interessante dinamika tussen ons en hulle na vore gekom.”

Kirsten (22) se sololoopbaan het kort voor die inperking weens die Covid-19-pandemie begin vlam vat. Toe hy egter nie meer op sy eie musiek kon maak nie, het hy sy jonger broer ingespan.

“Ons het verveeld geraak tydens die inperking, maar gelukkig het ons ouers ʼn musiekskool, so ons was opgesluit saam met verskillende instrumente en ons kon onsself daarmee besig hou.”

Kirsten is vol lof vir sy jonger broer wat skoolwerk en ʼn nuwe loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf moet balanseer.

“Kyle is nou eers 15 jaar oud. Ek staan steeds verstom oor hoe goed hy is as tromspeler, al speel hy nou eers vir sowat drie jaar. Die musiek kom vir ons baie natuurlik. Ons het nie jare se musiekopleiding nie – dit is net deel van ons natuurlike menswees.”

“Afrika son” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

Droomsindroom speel ‘As die vellie pas’ saam met Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.