Luister: Dualiteit van water inspireer Barto se treffersnit

Barto kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die nuweling sanger en liedjieskrywer, Barto, het Afrikaanse luisteraars laat regop sit met sy debuutenkelsnit, “H2Oë”.

Dié liedjie verskyn al geruime tyd op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 en die musiekvideo, wat sowat ʼn maand gelede uitgereik is, het byna 67 000 kykbeurte op YouTube.

Die Pretoriase musikant vertel in die Maroela Media-ateljee dat hy ʼn sportiewe kind was wat eers later sy musiektalent ontdek en ontgin het. Hy het wel baie respek vir musiek by sy ouma, ʼn begaafde pianis, geleer.

“Op ʼn stadium was daar ʼn Algeriese man wat deel was van ʼn gesin wat ons ʼn ruk lank gehuisves het. Hy het in daardie tyd ʼn musiekeksamen afgelê en toe ek die Spaanse stuk wat hy self geskryf het hoor, het my mond oopgehang. Ek het hom gesmeek om my te leer hoe om die liedjie te speel.”

Daarna het hy elke dag by ʼn ander inwoner van sy woonkompleks ʼn kitaar geleen om liedjies te oefen totdat sy ouers besef het hy is ernstig oor musiek en vir hom sy eie kitaar gekoop het.

Barto het “H2Oë” saam met Stephan van Huyssteen en Don Kelly geskryf. Van Huyssteen het ook die musiekvideo se regie en vervaardiging behartig.

“Die liedjie is beslis ʼn voet in die deur tot die Afrikaanse musiekbedryf en ek is dankbaar vir elke persoon wat my ondersteun, van die luisteraars tot die vervaardigers en bemarkers. Die terugvoer is oorweldigend en dit gaan eintlik my verstand te bowe,” sê Barto.

Sy liefde vir water het die liedjie geïnspireer. Hy vertel hy het in 2016 ʼn besoek aan Mosselbaai afgelê waar hy een dag alleen vir ʼn paar ure in doodse stilte na die see gekyk het.

“Ek het besef dat daar nooit iets in water is wat dieselfde is nie. In elke golf en stroom, in elke gety wat in en uit loop, is daar iets verskillends. As ek soos enigiets kon wees in die wêreld, sou dit wees soos water. Water pas die heeltyd aan en beweeg vorentoe, en elke kans wat water kry om ʼn massa deur ʼn klein of groot gat te stoot, sal hy aangryp.”

Hy is ook gaande oor die dualiteit van water en verklap dat hy selfs ʼn tatoeëermerk op sy arm het van die element “H20”.

“Ons almal het water nodig om te leef, maar dit kan dinge net so vinnig verwoes ook, as mens kyk na storms en vloede. Ek het meer respek vir water as wat ek ʼn liefde daarvoor het.”

Barto sê hoewel hy nog sy voete in die musieklandskap vind, sal hy so lank as moontlik sy passie vir musiek wil uitleef. “Die musiekbedryf is beslis die beste plek vir my. Waar ek mense kan vermaak en liedjies kan sing, is ek op my gelukkigste. Ek het al in ʼn kantoor probeer werk, maar dit was nie vir my nie,” lag hy.

“H2Oë” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Barto.

Kyk hier na die musiekvideo vir “H2Oë”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.