Luister: Early B maak buiging met debuutsoloalbum

Earl Swartz, of Early B soos sy aanhangers hom ken, is al langer as 10 jaar deel van die musiekbedryf én die trotse eienaar van ʼn gesogte Ghoema-toekenning, maar dit is met sy debuutsoloalbum, Aangename Kennis, waarmee dié Afrikaanse kletsrymer hom vir die eerste keer as solokunstenaar aan die Suid-Afrikaanse publiek voorstel.

Aangename Kennis is ʼn vollengte-album wat bestaan uit 18 snitte, elkeen uit Early B se pen. “Elkeen van my liedjies vertel ʼn storie,” sê hy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek wil mense op ʼn reis plaas met my liedjies. Ek sê altyd ‘my lirieke maak flieke in jou ore’,” skerts hy.

Die kunstenaar skram nie weg van gewigtige temas soos dwelmmisbruik, geweld teenoor vroue en emosionele misbruik nie. “My inspirasie kom van Bloemendal in Port Elizabeth, die omgewing waar ek vandaan kom. Ek sien mense gaan deur baie dinge en ek self gaan ook deur baie dinge. Ek skryf oor alles.

“Deur te sing oor onderwerpe soos geweld teen vroue wil ek vir die ouens sê ons moet ons vroue waardeer, en vir die vroue is die boodskap dat hulle hul waarde moet ken en dat dit nie nodig is om misbruik te word om jou liefde te betoon nie.”

Early B se eerste enkelsnit, “Ben Ten”, is een van die ligter liedjies op sy album wat handel oor ʼn ouer vrou wat belangstel in ʼn jonger man. “Die liedjie is baie tong in die kies. Ben Ten is nie die strokiesprentkarakter wat ons ken nie. Dit is wat ek ʼn jong man noem wat met ʼn ouer vrou uitgaan. Die liedjie is nie ʼn ware verhaal nie. Dit is meer ʼn oordrewe situasie waarin ek vertel hoe ek vir ʼn meisie gaan kuier, net om agter te kom sy is nie tuis nie, maar haar ma is. En dié vrou is té vriendelik en vatterig,” lag hy.

Early B in aksie. (Foto: Facebook)

Early B in aksie. (Foto: Facebook)

Voordat hy hom drie jaar gelede as solokunstenaar in die bedryf begin vestig het, het hy vir sewe jaar saam met ʼn groep opgetree. “Ek wou myself met die nuwe album uitdaag om verskillende musiekstyle aan te durf. Die titel van die album verwys ook na myself en hoe ek kennis maak met nuwe beats.”

Early B het kragte saamgesnoer met gewilde Afrikaanse kunstenaars soos die popgroep, ADAM, die kletsrymer, Jack Parow, en die grapjas en sanger, Emo Adams.

“Ek het verskillende genres aangepak wat uit my gemaksone is. Die liedjie “Ken jou waarde” saam met ADAM is in ʼn popstyl, terwyl ek en Jack saam die EDM-genre aangepak het met die snit “Potte”. Die liedjie “As ek geweet het” saam met Emo Adams het meer ʼn reggae-gevoel. Almal ken vir Emo as die ou wat grappe maak. Ek wou ʼn ander kant van hom wys en dat hy ook ernstig kan wees. Ek was baie versigtig in my benadering tot die liedjies,” sê hy.

“Die ouens wat saam met my aan die album gewerk het, is ouens na wie ek opgekyk het as kind. Ek is die nuwe ou in die prentjie en hulle almal het my laat voel asof ek een van hulle is. Emo is altyd iemand wat wil uithelp en nog altyd my loopbaan ondersteun het.”

Afrikaans bly sy gunstelingtaal om in te sing. “In Engels sal ek ʼn lang draai moet loop om te sê wat ek in Afrikaans op die man af kan sê. Ek kan myself beter uitdruk in Afrikaans. Die taalgebruik wat ek in Port Elizabeth gebruik, sal verskil van iemand in die Kaap, Johannesburg of Durban se taalgebruik. Ek kan uitstaan met my Afrikaans.”

Aangename Kennis is beskikbaar op alle digitale platforms asook by groot musiekhandelaars landwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nadia ·

Early B is die beste!!!! o en Jack Parrow… mal oor “Hey oom” en “Lekker djy”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.