Luister: Eerlike Dawie de Jager-snit is ‘iets vir almal’

Die omslag van Dawie de Jager se jongste enkelsnit is geskets deur Lucinda.

Dawie de Jager is al die afgelope twee dekades een van Afrikaans se mees gerekende musikante; eers as deel van die musiekgroep Klopjag en daarna as solokunstenaar en klankbaankomponis.

Hy het pas sy jongste enkelsnit, “Eendag as jy groot is”, uitgereik. Dié snit spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo, wat deur John-Henry Opperman se The Media Farm vervaardig is.

John-Henry is ook die voorsanger van Klopjag en ʼn jarelange vriend van Dawie. Dit is ook hy wat saam met Dawie aan “Eendag as jy groot is” geskryf het.

Dié liedjie het reeds 20 jaar gelede in John-Henry se koshuiskamer gestalte begin kry, maar het soos talle ander liedjies onder in ʼn laai beland totdat Dawie onlangs besluit het om dit af te rond. Dié twee musiekvriende het saam aan die liedjie geskaaf en geskuur om dit te maak wat dit vandag is.

“John-Henry is een van my skrywershelde; gaan kyk ʼn bietjie na die kaliber van liedjies wat hy al geskryf het. Dit was vir my een van die grootste voorregte om vir een van sy liedjies ʼn brug by te skryf en te verwerk hoe ek daarvan hou.”

Volgens Dawie kan luisteraars hulle maklik met “Eendag as jy groot is” se eerlike lirieke vereenselwig. Deon Dee en Ruan Graaff van Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig en het hul eie, moderne geur aan die snit gegee.

Dawie op die verhoog. (Foto: Facebook/Dawie de Jager)

“ʼn Mens kan ʼn liedjie op baie maniere verwerk. Ek dink die musiek ondersteun en dryf die boodskap van die liedjie regtig baie goed.”

In die musiekvideo sien die kyker vir Dawie ʼn pad na êrens stap. Daar is ʼn skrynwerker en ʼn ystersmid wat iets maak en twee klein kindertjies wat ʼn kransie uit blomme vleg.

“Ons wou uitbeeld dat ons almal altyd besig is om iets te probeer maak met ons lewe, maar niemand van ons weet regtig of jy alles gaan klaar kry voordat jy die dag moet groet nie,” verduidelik Dawie die konsep van die video.

Die kunswerk van die liedjie se omslag is geteken deur Lucinda, wat self ʼn bekende musikant en kunstenaar in eie reg is.

“Ek het gekyk na verskillende maniere om die omslag uit te beeld en was onseker hoe om die liedjie te verkoop sonder om myself te verkoop. Ek lyk nou ouer as toe ons 20 jaar gelede begin het. Ek het gevoel die skets is ʼn eerlike uitbeelding van hoe ek nou lyk en dit het my herinner aan ʼn Koos du Plessis-omslag, sonder om ʼn foto te gebruik met photoshop tricks.”

“Eendag as jy groot is” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Dawie de Jager in die Maroela Media-ateljee.

Kyk hier na die musiekvideo:

Dawie is ook ‘n uiters begaafde komponis van rolprentklankbane en het onder meer die musiek vir flieks soos Stroomop, Verraaiers en Sy klink soos Lente gekomponeer. Ons het met hom gesels oor die kuns van klankbaankomposisie. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.