Luister: Elandré gesels oor inperking, nuwe enkelsnit en toekomsbeplanning

Elandré (Foto: Facebook)

Elandré, die sanger wat Afrikaanse musiekliefhebbers aan sy voete het sedert hy in 2017 sy debuutalbum Kleindorp-dromer uitgereik het, was kort voor die inperking nog besig om die land plat te toer met sy opvolgalbum Boomhuis.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Dag en nag”, is onlangs bekend gestel én is tans in die tweede posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Elandré verklap in ʼn ateljeeonderhoud dat daar binnekort ʼn nuwe vollengte album op die rakke sal wees. Hy vertel hy het die inperkingstyd gebruik om nuwe musiek te skryf.

“Dag en nag” is die eerste enkelsnit in die nuwe album. “Ek het probeer om die beste te maak van die inperking en die tyd te benut. As jy ʼn kunstenaar vir langer as ʼn uur laat sit sonder om vir hom iets te gee om te doen, dan gaan hy begin skryf, en dit is wat ek gedoen het.”

Hy sê die koor van “Dag en nag” het ʼn maand of twee lank in sy kop vasgesteek. “Tydens die inperking het dit soms vir my gevoel asof ek nie weet watter dag dit is nie – dit was dag en nag en oor en weer en later raak elke dag dieselfde as die vorige. Dit is waar die herhalende koor vandaan kom. Ek het ʼn bietjie obsessief begin raak oor die einde van ʼn dag en die begin van ʼn nuwe een.

“Ek bring nou baie tyd buite my huis in die Oos-Kaap in die natuur deur. Die sonsopkoms en sonsondergang was vir my fantasties en dit het op sy manier in die liedjie in gewerk.”

Hy sê die album het nog nie ʼn naam het nie. “Om eerlik te wees, hang die naam nog in die lug. Ons kon nog nie daarop besluit nie. Die afgelope jaar het talle dinge in perspektief geplaas en ek dink ek het baie meer vrede in my hart en het baie dinge geleer.

“Die nuwe album is definitief ʼn weerspieëling daarvan. Ek voel nie noodwendig dat ek nou al die antwoorde het nie, maar ek voel ek kan ʼn paar waarnemings deel.”

Elandré vertel dat hy tydens die inperking sy liefde vir kos- en tuinmaak herontdek het en dat hy nou groente uit sy eie tuin kweek en kook.

“Ek is al vir vyf jaar ʼn veganis en dit is vir my belangrik om te weet wat jy eet. As ek kos maak, maak ek musiek en dit word ook in die nuwe album weerspieël.”

Hy het die regie van die musiekvideo van “Dag en nag” self behartig. “Ek is nog altyd lief vir die visuele kunste en ek hou daarvan om voor en agter die kamera wees. As kind het ek dae in die biblioteek deurgebring en deur boeke geblaai en gereeld na flieks gekyk.

“Die video is in Port Elizabeth geskiet en ek wou dit so eenvoudig hou as moontlik. Dit is die rigting wat ek met die album wou inslaan – die speling tussen ingewikkeld en doodeenvoudig.”

Hy vertel die doel van die album is om die luisteraar nader te bring aan dinge wat werklik belangrik is in die lewe.

“Ek bring nou baie tyd in my tuisdorp saam met my familie deur. Die album gaan daaroor om nader te kom aan jouself, en dinge wat belangrik is. Om te rus en dinge helder te sien. Ek dink Kleindorp-dromer het gewys wie en wat ek is en hoekom ek musiek maak. Boomhuis was ʼn viering van my tyd in Kaapstad en my vorming in die bedryf. Die nuwe album weerspieël ʼn meer settled ek.”

Elandré beplan om die nuwe album vroeg in Januarie uit te reik. “Dag en nag” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.