Luister: Elandré pak sy rugsak

Elandré. (Foto: Altin Ferreira)

Met die uitreiking van sy enkelsnit “Dag en nag” tydens die inperking in September verlede jaar het Elandré onderneem om aanhangers te bederf met ʼn derde vollengte album.

Dié album getiteld Rugsak het pas die lig gesien en pryk reeds op al wat ʼn treffersparade is. Die sanger vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat die terugvoer oor die album hom oorweldig.

“Die terugvoer wat ons binne ʼn naweek gekry het, is ongelooflik. Ons het baie risiko’s geneem en baie rondgespeel. Ons het die klank en produksie probeer druk en wou dinge vorentoe laat gaan,” vertel hy.

Die album bevat 11 snitte met titels soos “Lemmetjieboom”, “Musiek”, “Land of sand” en die radiotreffer “Binne en buite”.

“Ek en Dirk van Niekerk, die vervaardiger, wou ons deur elke liedjie laat lei en sodoende het elke snit op die album het sy eie identiteit aangeneem.”

Die titelsnit “Rugsak” is saam met sy vriendin Jo-Mari Malan geskryf. “Sy het by my kom sit en gevra wat ek vir ʼn jonger ek sou sê. Die liedjie is daaruit gebore.

“Ek is baie op die pad en ek het altyd een ding by my en dit is my rugsak. Soms is dit so vol en dit is ʼn frustrasie, want jy weet soms nie wat om te vat en wat om te los nie. Dit is so met die lewe ook en soms het ek swaar klippe saamgedra, ander kere blink klippe en klippe waarteen ek my toon gestamp het.

“Die vorige twee albums was meer retrospektief, sou ek sê. Hierdie een kyk vorentoe,” sê hy.

Die musiekvideo vir die liedjie “Waar die wind my waai” is ook onlangs uitgereik en is deur Christian Wolf geskiet en vervaardig. Hy het ook die musiekvideo’s vir “Vuur op die water”, “Woorde uit jou mond” en “Tussen die lakens” gemaak.

Elandré se nuuste album word later vandeesmaand vrygestel (Foto: Altin Ferreira)

Die video is in Pretoria, Hartbeespoort en Port Elizabeth geskiet. “Ek bestee tans baie tyd in PE by my familie en die wind is daar alomteenwoordig. My ma het altyd gesê sy gaan waar die wind haar waai en PE is ook die plek waar die wind my waai.

“Dit was vir my die grootste eer om op plekke te gaan skiet waar ek baie goeie herinneringe het saam met my familie. Dit was vir my fantasties om die Oos-Kaap te wys. Ek het al soveel video’s gemaak in Gauteng en in die Kaap, maar dit was ʼn ander ondervinding om dit te doen op die plek waar ek grootgeword het en waar ek soveel plekke ken.”

Hy sonder die liedjie “Motiveer” uit as een van sy gunstelinge op die album. “Dit gaan oor die goed wat my aan die gang hou. Die foonoproep wat ek kan maak wat my verseker en sê hou aan, you’ve got this. Ek het ʼn paar sulke nommers wat ek kan bel en ek kan daardie mense se leiding neem.

“Dit gaan ook ʼn bietjie oor fisieke oefening en my aaklige verhouding daarmee. Ek het die tyd geneem om uitdagings aan te vat en as motivering te gebruik eerder as om dit as ʼn kruis te sien. Ek was nie lief vir oefening nie, maar ek het dit verander.”

Rugsak is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Waar die wind my waai”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Ek het net lof vir die manier waarop Elandré die taal Afrikaans met trots besig.
Mag hy guns in oorvloed ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.