Luister: Elandré raak nostalgies in ‘Hand aan hand’

Elandré (Foto: Verskaf)

Met Elandré se splinternuwe enkelsnit “Hand aan hand” laat val hy die kollig op ʼn liefdesverhaal wat hom besonder na aan die hart lê: dié van sy oupa en ouma wat mekaar op die dansbaan ontmoet het en wat ʼn leeftyd se liefde en geluk gedeel het.

“Die lied gaan oor liefde, ja, maar spesifiek langtermyn-liefde. Ons leef in ʼn tyd waar ʼn mens so vinnig van die een oomblik na die volgende spring, en ek dink in hierdie tyd is dit vir my belangrik om juis dinge te identifiseer wat langdurend is.”

Elandré vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media dat sy oupa en ouma een aand by die Thornhill Hotel net buite Port Elizabeth ontmoet het, waar sy oupa elke nou en dan ook self opgetree het.

“My ouma het alleen gesit toe my oupa sy kans gewaag het en haar vra om te dans. My ouma is toe pas geskei en was toe nog effens broos, maar sy het ingestem om te dans.

“Toe hulle die derde keer om die pilaar in die middel van die saal dans, het hy glo vir haar gesê: ‘Met jou gaan ek trou!’ waarop sy geantwoord het: ‘Ag, jy’s mal’. Nou ja, 17 dae later is hulle getroud.”

Elandré koester die mooi en goeie herinneringe van sy grootouers se verhouding. Hy vertel dat hulle altyd saam gedans het, en dat sy ouma hom op die maat van Saterdag-radioprogramme in die kombuis geleer het om te dans. Sy was ook die persoon wat voorspel het dat Elandré ʼn suksesvolle musikant sou word.

“‘Hy gaan op groot verhoë wees’, het sy altyd gesê, veral wanneer sy my in die weerkaatsing van die karvenster gesien sing het.

“My ouma is in 2002 dood en my oupa is onlangs oorlede. Dit is moeilik dat hulle nie meer hier is nie, maar soos my ma sê: ‘Ek troos my daaraan dat hulle nou weer saam dans’.”

Elandré verklap dat hy eintlik reeds besig was om die lied te skryf toe sy ma foto’s met hom deel van die plek waar sy oupa en ouma ontmoet het.

“Daar was onder meer ʼn foto van my ma waar sy voor daardie einste pilaar staan. Ek was in die skryfproses van ‘Hand aan hand’ – ʼn lied wat handel oor standvastigheid, vertroue, verlange en soete hereniging.”

Dit is ook hier waar “Hand aan hand” se musiekvideo geskiet is. “Dit was vir my belangrik om die musiekvideo vir my eie langarmlied daar te skiet. Ek dink van alles wat ek nog in my loopbaan gedoen het, was dít nog die belangrikste: om hulle verhaal te kon vertel.”

“Hand aan hand” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die artikel.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Hand aan hand”:

Maroela Media het vyf vrae vir Elandré gevra. Luister hier na sy antwoorde:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.