Luister: Elandré Schwartz: ʼn ‘Kleindorpdromer’ met ʼn gróót stem

Elandré Schwartz ( Foto: Günther Schubert @guntherschubert)

As jong seun van Despatch in die Oos-Kaap sou hy ure en dae daaroor droom om eendag op ʼn verhoog te wees.

As “kleindorpdromer” – soos die 22jarige Elandré Schwartz in een van sy liedjies vertel – het sy wense wel waar geword ten spyte van mense wat hom dikwels gewaarsku het om nie té groot te droom nie. ʼn Video waarin hy sy weergawe van die Bruce Springsteen-liedjie “Tougher than the Rest” sing het hom onlangs ʼn platekontrak in die sak beteken.

Hy het so byna-byna nié die liedjie op sosiale media gedeel nie, vertel die sanger tydens ʼn onderhoud in die Maroela Media-ateljee. Vandag is hy tog té dankbaar dat hy wel besluit het om die video te laai.

“Ek het baie ander musiek op die blad gelaai voor daardie video – om die waarheid te sê, ek het aanvanklik oorweeg om dit nie eers te plaas nie omdat die video nie vir my goed genoeg was nie.” Nietemin het hy dit wel gedoen en groot was sy verbasing toe dié video oornag meer as 100 000 keer gekyk is. “Ek kan nie glo hoe bevoorreg ek is nie; ek kan steeds byna nie eens glo so iets het met my gebeur nie.”

Elandré Schwartz ( Foto: Facebook)

Schwartz het vroeër probeer om sy musiek aan ʼn platemaatskappy voor te stel, maar byna hoop op ʼn sangloopbaan laat vaar toe hy nie enige sukses behaal het nie. Ná die video is hy tydens ʼn regstreekse onderhoud op ʼn Kaapse radiostasie ʼn platekontrak aangebied. Sommer so – sonder dat die platebaas hom ooit ontmoet het.

“ʼn Mens berei jouself nie voor op só iets nie. Bruce Springsteen het baie aanhangers en ek was bang die mense sou nie van my weergawe van die liedjie hou nie. Maar die mense was ongelooflik. Ek het persoonlik elke liewe kommentaar gaan lees, en daar was nie een negatiewe opmerking gewees nie. Ek kon nie glo toe ek daardie kontrak aangebied is nie; dit is asof elke droom in ʼn oomblik verwesenlik is. Dit is asof elke droom gehoor is.”

Sy album, Kleindorp dromer, is pas uitgereik. Dié album vlieg behoorlik van die rakke en talle musiekwinkels het reeds laat weet dat hulle nie meer voorraad het nie.

Elandré Schwartz ( Foto: Facebook)

“Toe ek na Kaapstad verhuis het, het ek meeste van my tyd in musiekwinkels deurgebring. Omdat ek so ver van die huis af weg was, het ek na die musiek geluister wat my aan my mense en my huis herinner het. Ek sou ure aaneen in die winkels staan en kyk na die musiek wat goed doen en musiek wat in die verlede goed gedoen het. Ek het gekyk na die omslae van die albums en ek het gedroom dat só iets ooit met my sou kon gebeur.

“Vandag is ek net so ongelooflik dankbaar. As ʼn jong kunstenaar kom sulke geleenthede nie altyd oor ʼn ou se pad nie. Daar is duisende mense wat sukkel om hul musiek in die mark te kry – dit is dus my plan om in my loopbaan ook geleenthede te skep vir jong kunstenaars soos ek,” vertel hy.

Kleindorp dromer gaan oor stories uit Despatch en die mense van dié omgewing. Dit vertel van sy grootwordjare, sy liefdes en die lesse wat hy geleer het. Maar die album is nie swaar nie, keer hy – hy het net “baie diep gedelf en baie van homself daarop gedeel”. Mense sal, so sê hy, kan identifiseer met die lirieke en die musiek.

Sommige van die liedjies in dié album het ʼn spesiale storie.

Elandré Schwartz ( Foto: Günther Schubert @guntherschubert)

“Een van die liedjies in die album, ‘Forever’, is deur my oom, Henry geskryf. Hy is eintlik ʼn motorwerktuigkundige, maar ʼn ongelooflike skrywer. Hy skryf byna elke dag en het ʼn hele lêer vol liedjies. Ek het besluit om dié liedjie te sing omdat ek regtig mal was oor lirieke en omdat die liedjie met my gepraat het. Die lirieke het boonop onder gereedskap in die motorhuis gelê. Ek dink dit sal die geval met ander mense ook wees. Sy grootste droom is om ʼn liriekeskrywer te wees en vandag is hy.

“ʼn Ander liedjie wat ek kan uitsonder is ‘Die lyn’. Dié liedjie gaan oor die mense op Despatch en die besonderse manier waarop hulle my beïnvloed het. Dit het baie bygedra tot die mens wie ek vandag is en is ʼn huldeblyk aan my mense.”

Kleindorp dromer is beskikbaar in musiekwinkels landwyd én op iTunes en ander elektroniese platforms. Vir meer inligting besoek Schwartz se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ashlee ·

Hoop net hy kyk verder as afrikaanse “gediggies”, anders word sy talent in n baie klein blikkie begrawe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.