Luister: Elandré sing Afrikaans aan die brand

Elandré kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Elandré, die blondekop sangsensasie wat opslae gemaak het in die Afrikaanse musiekbedryf met sy debuutsolo, Kleindorp-dromer, se jongste album, Boomhuis, is onlangs uitgereik en is reeds besig om flink te verkoop.

Die eerste enkelsnit in Boomhuis, “Vuur op die water”, klim sedert sy uitreiking die rangleer van treffersparades landswyd en is tans ook in die no. 1-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Die 24-jarige sanger, gebore en getoë op Despatch in die Oos-Kaap, vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media “Vuur op die water” is een van die laaste snitte wat opgeneem is vir sy jongste album. Die snit is geskryf deur Elandré en Neil Schoombie.

“Die liedjie het ʼn goeie energie aan hom gehad en is ook ʼn goeie verteenwoordiging van die album en waar ek myself tans bevind sedert ek twee jaar gelede Kleindorp-dromer bekendgestel het. Ek het gedink die snit is sterk en dit was so lekker om ʼn video daarvoor te maak,” sê hy.

Dié musiekvideo, wat reeds meer as 540 000 trefslae op YouTube het, is geskiet deur Christian Wolf, wat ook verantwoordelik was vir Demi Lee Moore se Ghoema-bekroonde video vir haar treffersnit, “Mis eet slaap herhaal” en Steve Hofmeyr, Ruhan du Toit, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld en Jay-samewerkingsvideo “Die land”.

“Ek en Christian het ook saam aan ‘Die lyn’ se video gewerk. Dit was net ek, hy, ʼn rookmasjien en ʼn kamera op die stel van ‘Die lyn’ en daar het iets gebeur wat baie intiem en spontaan was en dit is wat ek wou gehad het met die tweede video ook. Ek wou dit ʼn stappie verder neem en ek het my destydse kamermaat op kollege gebel en gesê ek weet hy kan lekker dans en hom saamgenooi na die stel van ‘Vuur op die water’. Ons het ʼn paar mense bymekaar gekry en die klere het ons by tweedehandse winkels gekry. Ons het geskiet net buite Pretoria by ʼn skrootwerf,” vertel Elandré.

Hy vertel dat die album Boomhuis ʼn baie intieme en persoonlike album is en dat ʼn boomhuis ʼn voorstelling is van ʼn plek waar hy as kind baie veilig gevoel het.

“As kind het ek baie tyd in die boomhuis voor ons huis deurgebring en ek het altyd daar opgegaan, veral as my broer ʼn bietjie kwaad was vir my, dan kon ek daar wegkruip,” skerts hy.

“Daar was net een manier hoe jy by die boomhuis kon inkom en ek sou vir ure daar sit en dink en lees. As ek in die boomhuis was, kon ek die heuwels van Despatch in die verte sien en ek het altyd gewonder wat lê anderkant dit. Heelwat tyd het intussen verloop en die lewe het verander en die boom staan nie meer daar nie, maar toe ek in Kaapstad gewoon het, het ek nuwe mense ontmoet en ek het weer so ʼn omgewing met vrymoedigheid ontdek.

“Ek het mense gekry wat soos ek is, wat daar is vir die kunste maar ook nog soort van hulle pad vind. Ek het onlangs twee van daardie mense twee weke uitmekaar uit verloor weens fratsongelukke, en ek moes gaan stil sit oor Desember en besef die laaste twee jaar was regtig wonderlik. Ek het vir ʼn lang tyd nie oor baie dinge van my jonger jare gedink nie, so dit was lekker om te kon sit en dit in musiek te kon verwoord.”

Hy vertel dat hy lief is vir country-musiek en daarom het hy besluit om nuwe weergawes van bekende country-liedjies soos “Amazed”, “He’ll Have to Go” en “Teenage Queenie” in die album in te sluit.

Elandré (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ek het grootgeword met country-musiek. My ma was baie lief vir country en sy was nie altyd baie goed daarmee om te verwoord hoe sy op sekere tye gevoel het nie, maar sy sou ʼn sekere liedjie speel in die huis en jy sou presies verstaan wat aangaan. Dit is hoe ek ook is.

“Toe ek Kaapstad toe is en die huis gemis het, het ek glad nie na nuwe musiek geluister nie. Ek het net na musiek geluister wat ek by die huis geluister het. My oupa het ‘He’ll Have to Go’ soveel keer in die huis geluister en ek self het dit al by ʼn vertoning hier en daar gesing en daar is soveel nostalgie wat saam met die liedjie kom, dat ek dit graag in die album wou insluit.”

Boomhuis is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars en op Takealot en is ook beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Ek hou baie van hierdie knaap. Sy CD Boomhuis is nie vir my so goed soos die 1ste CD nie. Hy het ‘n lieflike stem vir Country musiek en ek dink hy moet liewers by Country hou. (Moet asb nou nie my onthoof nie – dit is my opinie)

tw ·

Mal, mal, mal, stapelged oor die man se stem en musiek. Nuut en vars, net wat ons nodig het. Wel gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.