Luister: Elizma Theron reik 7de album uit: ‘Alles is genade’

Elizma Theron (Foto: Maroela Media)

Elizma Theron (Foto: Maroela Media)

Toe sy byna 11 jaar gelede haar koffer gepak en Kuruman vir die groot stad verruil het, het sy vir twee weke ʼn skamele R12 op haar naam gehad. Maar “genade, deursettingsvermoë en ʼn gróót droom” het verseker dat Elizma Theron vandag tel onder Suid-Afrika se gerekende kunstenaars. Nou het dié sangeres onlangs haar sewende album uitgereik.

Elizma vertel sy het nog altyd ʼn sterk wil en deursettingsvermoë gehad, en daarom was een ding seker: sy gáán sing. Dit was egter nie altyd maklik nie, en om soveel suksesse in jou loopbaan te bereik, moet jy ook ʼn paar laagtepunte beleef.

Maar selfs dié laagtepunte leer jou dat álles moontlik is, van die grootste tot die kleinste droom.

“Ek was destyds trots gewees en wou nie my ouers vir geld vra nie. Ek moes twee weke met net R12 leef, en het sommer brood gekoop, dit bevries en daarvan gelewe. As ek terugdink, is dit so ʼn mooi deel van my reis. Daar was nie een oomblik wat ek wou opgee oor moeilike omstandighede of kompetisie in die bedryf nie. Vandag het ek al sewe albums uitgereik,” vertel sy.

Haar jongste album, Boeregirl met ʼn countryhart, is ʼn countryalbum.

“Ek het grootgeword op countrymusiek. As ek terugdink aan my kinderdae, is dit wat ek onthou. Dit was ook al lank een van my drome om só ʼn album op te neem. My platemaatskappy het dié jaar gesê hulle is moeg vir my geneul, en ons het besluit dis tyd. Ons het toe ʼn kortlys van meer as 70 liedjies saamgestel, en op die ou end het ons 23 gekies.”

Die album bevat onder meer liedjies van Dolly Parton, volgens Elizma “die koningin van country”, en ander ou gunstelinge soos “If teardrops were pennies”, “Silver threads and golden needles” en “Rose garden”.

Die sangeres meen dié liedjies gaan tot ʼn wye gehoor spreek omdat dit die nostalgie gaan aanwakker by ouer mense en jonger aanhangers blootstelling gee aan tradisionele country.

Daar is ook talle duette op die album. “Ek hou van duette. Ek het soveel wonderlike vriende in die bedryf gemaak dat ek bevoorreg is om dit te doen. Daar is onder meer duette met Barbara Ray, Nicholis Louw en Ray Dylan op die nuwe album waarna mense kan uitsien,” voeg sy by.

Hoewel haar waardesisteme en dit waarin sy glo dieselfde gebly het deur die jare, sê sy 11 jaar in die musiekbedryf het haar aanvanklike prioriteite verander en haar horisonne vergroot en verbreed. “Een ding is deurlopend egter nog dieselfde, en dis dat ek nog altyd ʼn positiewe beeld wil uitstraal na buite.

“Ek wil iemand wees om na op te kyk en wat ander respekteer. Ek wil ook vir mense wys dat jou drome nooit té groot is nie. Ek was destyds doodbang om stad toe te trek, maar as die Here ʼn belofte in jou hart gesit het, gaan selfs die moeilike tye jou nie onderkry nie. My pa het my altyd geleer ek moet nooit glo ‘the sky is the limit’ nie. Ek het elke dag nuwe drome.”

Dié drome sluit onder meer haar eerste draaiboek in. Die sangeres vertel sy het onlangs die draaiboek Toevallig geskryf, en dié fliek gaan heel waarskynlik in 2017 of die daaropvolgende jaar die lig sien.

“Ons was een aand op pad terug huis toe van my skoonouers, en ewe skielik, vanuit die bloute, het ek hierdie idee gehad. Toevallig is ʼn liefdesverhaal met ʼn twist. Daar is komedie, maar dit is nie ʼn komedie nie. Die vraag wat dit vra, is: As jy die geleentheid kry op ʼn bonatuurlike manier om te sien hoe jou lewe oor drie of vier jaar kan lyk, hoe ver sal jy gaan om daai lewe te gaan soek?”

Elizma is al reeds besig met beplanning om ʼn toer vir die album af te skop.

Boeregirl met ʼn countryhart is beskikbaar in musiekwinkels landwyd en op iTunes.

Vir meer inligting, besoek haar Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Dit is nou n vrou wat kan sing en ek geniet haar country musiek !!!! Hoera vir Elizma!!!!

hennie schutzler ·

Dis hoe ek jou ken my Lizma – kind!! El weet jou nuwe album gaan al jou vetwagtinge oortref. Baie sterkte. Liefdetjies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.