Luister: ‘Elke liriek het betekenis,’ sê Sharoney oor nuwe musiek

Sharoney (Foto: Facebook)

Die ink op die omslag van die Afrikaanse sangeres Sharoney se album was skaars droog, toe sit sy al op kykNET se Jukebox-bank om dié album bekend te stel.

In háár wêreld was ʼn tweede album ver in die toekoms, maar toe die liedjies eers instroom en ʼn nuwe album selfs begin “vra om saamgestel te word”, het sy geweet dis nóú tyd. Juis daarom was sy só opgewonde om dié album onlangs aan aanhangers bekend te stel.

Die sangeres se jongste en tweede album, Skyn, vertel stories van liefde en verlies. Dié album volg nadat haar debuutalbum, In ons fairytale, haar twee Ghoema-benoemings besorg het.

“Dit voel soos net nou die dag wat ek op daardie verhoog moes klim toe Reynhardt Hugo [van Adam-faam] op stel vasgehaak het. Ek het ʼn paar liedjies gesing terwyl ons gewag het en in wese was dit my eerste groot deurbraak. Vandag gaan dit baie goed en ek is baie geseënd. Tot dusver was vanjaar baie opwindend en die res van die jaar hou nóg opwinding in,” vertel sy.

Die vervaardiging van haar tweede album was ʼn warrelwind – maar een wat haar “ontsettend baie vreugde en vrede besorg het”.

“Ek dink nie ek het ooit gedink dat ʼn tweede album in aantog is nie; veral nie só vroeg nie. Ons moes in ʼn kort tydjie al die musiek regkry – maar dit was wonderlik hoe dit gebeur het en ek is dankbaar om reeds ʼn tweede album op die rakke te hê.”

Die gelyknamige eerste enkelsnit vanaf die album het op talle treffersparades landwyd gepryk en die musiekvideo was ook vir ʼn geruime tyd op die kykNET Top20. Haar tweede enkelsnit, “Toe gaan jy weg”, is pas bekend gestel.

“Dis ʼn get up and fight back-liedjie,” vertel sy. “Baie keer ontmoet ek en jy ʼn persoon wat op die oog af lyk na iemand wat perfek in jou lewensprentjie kan inpas. Maar soos die tyd aanstap, besef jy dat julle ideale wêrelde van mekaar verskil en dat dit moeilik raak om al die stukkies van die legkaart te laat pas.  En dan … dan gebeur ‘toe gaan jy weg’.”

Sharoney (Foto: Facebook)

Bekendes soos Vaughan Gardiner en Hugo Ludik, ook van Adam-faam, het vir dié album geskryf. Sy waag nóg nie haar hand aan die skryfproses nie, maar as haar tweede album ʼn voorbeeld kon wees vir wonderwerke, sou sy nie die moontlikheid van ʼn derde album uitsluit nie.

Talle van die liedjies op Skyn pak die temas van liefde en verlies.

“Ek dink ons almal kan ons met die meeste lirieke vereenselwig – dit vertel ʼn storie wat baie van ons ken. Dis vir my belangrik om ʼn universele storie te vertel. Ek ken daardie oomblik wat dit voel of jou hart aan duisend stukkies breek, net om te besef jy is beter af sonder daardie persoon. Jy is sterker, jy het meer hoop vir jou toekoms en jou uitkyk op die lewe is weer positief. Op jou eie is jy eintlik heeltemal gelukkig. Jy het nie ʼn kruk nodig om jou regop te hou nie, maar ʼn steunpilaar om jou te ondersteun.”

Sy wil die manier waarop mens dikwels na dansmusiek kyk, verander. Daarom stel sy haar dit ten doel om betekenis agter die liriek van elke liedjie te sit. “Ek kan verstaan hoekom dit moeilik is om die diepte in dansmusiek te ken – maar met ʼn span soos Hugo Ludik en Vaughan Gardiner kan dinge net nie skeefloop nie. Jy as kunstenaar moet betekenis agter die lirieke sit en ek dink dis wat ek veral probeer regkry. Elke liriek het betekenis. Ek dink nie dit is bloot net ligte musiek nie; die mense wat daarna luister, verstaan die stories en ken die pad. Solank iemand iets positiefs uit die album kan haal, is ek dankbaar.”

Vir meer inligting oor Sharoney of haar album, besoek haar webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.