Luister: Elme Churr sê ‘jy is genoeg’

Elme Churr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die Afrikaanse sangeres Elme Churr het onlangs ʼn nuwe enkelsnit, “Jy’s genoeg”, uitgebring.

Sy het aan Maroela Media vertel oor die skryfproses, die rede agter die liedjie en haar planne vir ʼn nuwe album.

“Jy’s genoeg” het die lig gesien nadat Churr gevoel het dat die samelewing en die media baie negatief geraak het, en dat daar baie druk op mense is om te presteer. Sy het toe aan die liedjie begin skryf.

“Ons moet op ʼn punt kom waar ons kan sien dat jy nie ander mense kan help voordat jou eie bekertjie nie vol is nie. Ons moet besef ons almal maak foute en ons doen nie altyd alles op die regte tyd nie, maar jy is steeds genoeg. Jy hoef nie jouself aan enigeen te bewys nie,” het sy gesê.

Churr het ook gesê sy voel sterk daaroor dat ouers vir hul kinders moet sê dat hulle genoeg is net soos hulle is.

“Al is jy nie in die eerste span nie en al het jy nie al die toekennings nie. Jy is steeds genoeg,” meen sy.

Churr het met die hulp van die bekende sangers en liedjieskrywers Vaughn Gardiner en ADAM se Hugo Ludik die liedjie geskryf.

“Hulle is absoluut amazing en inspirerend,” het sy oor dié twee liedjieskrywers gesê.

Elme Churr

“Ek het baie by hulle geleer en dit is lekker om saam met hulle te werk; hulle weet waarvan hulle praat. Die proses het eintlik meer soos ʼn kuiersessie as ʼn werksessie gevoel, want jy kan jou skoene uitskop, koffie skink en daar gaat jy!”

Churr hoop dat mense gelukkig sal wees nadat hulle na “Jy’s genoeg” geluister het.

“Ek wil hê mense moet huil en dan moet hulle lag. Hulle moet saamsing en dit geniet. Almal sal die liedjie verskillend interpreteer na gelang van hul verkillende agtergrond. So ek wil net hê hulle moet dit geniet,” het sy gesê.

Churr sing al vandat sy ʼn klein dogtertjie is. Sy vertel dat haar ma altyd vir haar sê dat sy kon sing voordat sy kon praat. Sy meen sy is gebore met musiek in haar are.

Haar liedjie “Unbroken Hearts” is ook verlede jaar gekies as die openingslied van die Ice Spectacular-vertoning in Pretoria, waar sy op ysskaatse voor die gehoor gesing het.

Churr is besig om aan haar nuwe album te werk en verklap dat sy in dié album ʼn duet saam met haar man, Ben, gaan sing.

“Ek is verskriklik opgewonde, maar ons skaaf nog ʼn bietjie en skryf nog liedjies. Ons moet ook nog ʼn musiekvideo opneem. Ons hoop om dit teen Junie klaar te maak,” het sy gesê.

Vir meer inligting of om Elme Churr op sosiale media te volg, besoek haar Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Beatrice Grobler ·

Ek is so bly Elme kry uiteindelik die blootstelling wat sy verdien. Sy werk al jare onverpoosd aan haar loopbaan en is n fantastiese sangeres. Ek is gaande oor haar!! Wel gedaan Elme..whoop whoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.