Luister: Elmé: ‘Rooiwyn en liefde’ raak beter met tyd

Elme rooiwyn en liefdeDie opkomende blondekop-sangeres, Elmé, se debuutalbum, Rooiwyn en liefde, is onlangs bekendgestel.

“Ek het tien van die dertien snitte self geskryf,” vertel Elmé. “Die liedjies is ʼn stukkie van wie ek is. Elke liedjie kom uit my hart uit. Elkeen is verhalend en grotendeels gebaseer op ware gebeure in my lewe.”

“Ek sing seker al vandat ek drie jaar oud is, soos my ma sê – ek’t gesing voor ek kon praat. My hele lewe lank is ek betrokke by een of ander vorm van vermaak, en dis vir my as mens bitter belangrik om ander mense te sien lag en gelukkig wees. Musiek gee my nou die ideale platform om geluk en liefde uit te druk.”

Nadat sy in 2007 haar graad in musiekteater aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria verwerf het, het Elmé by die Barnyard-teatergroep aangesluit.

In 2014 het sy die Windpompfees-kompetisie gewen en dié pryse, wat onder meer die opname van ʼn liedjie en ʼn musiekvideo ingesluit het, het die bal vir haar aan die rol gesit. “‘Jy is alles’ is ook ingesluit op die nuwe album.”

Oor die titel van die album sê Elmé rooiwyn en liefde is vir haar beide iets wat spesiaal is. “Oor tyd raak dit net beter,” verduidelik sy.

Om te skryf op die ingewing van die oomblik is nie maklik nie. “ʼn Mens moet dissipline hê wanneer jy skryf, veral wanneer jy die liedjies wil afrond. Ek kry baie keer ʼn idee en dan maak ek gou ʼn nota op my selfoon, maar om alles bymekaar te sit verg dissipline.”

“Dis moeilik om ʼn gunstelingliedjie op die album te kies,” lag Elmé. “Ek sou wou sê almal is my gunsteling, maar die een wat vir my uitstaan is ‘Liefde is nie liefde sonder jou nie’. Ek dink ʼn mens kom te min op ʼn plek waar ʼn mens dankbaar is.”

Sy vertel die musiekvideo vir ‘Liefde is nie liefde sonder jou nie’ is deur Coolerbox Brothers gemaak. “Dit was vir my ʼn absolute belewenis,” sê Elmé. “Dit speel af in ʼn ou skoolgebou en alles om my is gebreek. Saam met die boodskap van die liedjie dink ek dit skep ʼn baie mooi prentjie.”

Danny Lalouette en sy dogter Veronique, asook Herman Kleinhans van die Kaapse groep TWEE, het bydraes op die album gelewer. Tertius Human het die vervaardiging behartig. “Ek het nie gedink dit neem soveel tyd om ʼn album bymekaar te sit nie. Dit is ʼn voorreg om hierdie mense se insette te kon hê in my werk, my babatjies,” lag sy.

“Ek moet byvoeg dat ek die heeltyd koffie gegooi het, want ek werk op my beste met ʼn pot swart koffie naby my!”

Rooiwyn en liefde is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars, asook digitaal op iTunes. Besoek ook haar webwerf vir meer besonderhede oor opkomende vertonings.

Kyk hier na die video vir ‘Liefde is nie liefde sonder jou nie’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.