Luister: Eloff se ‘Johnnie Blou’ op almal se lippe

Eloff is op almal se lippe met sy debuutenkelsnit, “Johnnie Blou”.

Die nuweling-musiekster Eloff se debuutenkelsnit, “Johnnie Blou”, is omtrent so glad op die oor soos ʼn sopie Johnnie Walker Blue Label op die tong, en dié blondekop-, blouoog-sanger is self ook sag op die oog.

Eloff, wat bekend staan as “die prins van Potch” – ʼn bynaam waaroor hy skaam sy kop skud wanneer hy daaroor uitgevra word – skerts in die Maroela Media-ateljee dat hy geen benul het waar dié bynaam vandaan kom nie.

“Ek noem myself glad nie só nie, maar ek sal dit vat,” skerm hy laggend.

Eloff, wie se naam eintlik Brandon Eloff is, is oorspronklik van Randfontein in Gauteng afkomstig en studeer tans regte aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom, maar sê dat musiek deesdae sy eerste prioriteit is.

“Ek glo ʼn ou moet ʼn plan hê vir jou toekoms en die regte is iets om op terug te val. Ek is egter mal daaroor om in die musiekateljee te wees. Dit is waar ek net myself is,” sê Eloff.

Eloff.

“Johnnie Blou”, wat handel oor ʼn meisie met “ʼn goue tan, spierwit tande en ryk ouers met ʼn huis in Mosselbaai”, het in November verlede jaar die lig gesien en is sedertdien op al wat ʼn partytjie is te hoor.

Die musiekvideo het nie net al sowat 700 000 kykbeurte op YouTube nie, maar is ook die afgelope paar weke die no. 1-snit op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Die liedjie beklee ook al vir agt weke die eerste plek op Apple Music en iTunes se Afrikaanse treffersparades.

Die liedjie is geskryf deur Hugo Ludik, Nicholas Jordaan en Brendan Ross Campbell van Muse Studios. Hulle het vir Eloff na die ateljee genooi om die liedjie saam met sy stem te toets en die res is geskiedenis.

“Die liedjie se ritme en melodie maak dit ʼn oorwurm. Dit is baie catchy en ek geniet self die liedjie baie,” sê Eloff trots.

Hy is besig om nuwe musiek op te neem, maar wil nie te veel verklap oor wat aanhangers kan verwag nie.

“Ek bring verskeidenheid, so daar is ʼn paar ballades op die horison, maar ek hou van die dansmusiek. Dit bring ʼn lekker gees.”

Eloff kan op Instagram, Facebook en TikTok gevolg word. “Johnnie Blou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Eloff.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Waar kom die naampie vandaan…..” prins van potch ” ?

Vonkprop ·

Ai, wat het van ons mooi Afrikaanse musiek geword. Alles gaan net deesdae oor lywe en drank.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.