Luister: Elvis Blue oor sy kinderjare en ʼn lewe van geluk

Elvis Blue (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die geliefde Afrikaanse sanger Elvis Blue het ʼn sagte plekkie in baie Suid-Afrikaners se harte, en nóú wil hy met sy nuwe album, Jou huis, vir aanhangers ʼn kykie in sý huis en persoonlike lewe gee.

Elvis het in 2010 bekendheid verwerf toe hy die sesde seisoen van Idols Suid-Afrika gewen het. Hy het sedertdien aanhangers gaande met talle bekende liedjies, waaronder “Die hemel”, “Toe ons jonk was” en “Rede om te glo”.

Elvis het Vrydag sy jongste enkelsnit, “Jou huis”, en gelyknamige album vrygestel.

“ʼn Huis is ʼn baie komplekse plek. Almal word in een groot en dit los ons met sekere gevoelens en dinge wat ons hele lewe by ons sal bly. Liefde, seerkry, hartseer en verlange gebeur alles in ʼn huis,” vertel hy oor die inspirasie agter die snit.

“Die album gaan oor temas rondom ʼn huis. Baie van my musiek voorheen was oor universele temas, maar dié album is bietjie nader aan die huis. Ek skryf ook presies oor waar ek op die oomblik woon; die Outeniekwaberge, die see, my vrou en my kinders,” sê Elvis.

Jou huis

Elvis vertel dat hy in Agtste Straat in Linden in Johannesburg grootgeword het en dit was vir hom ʼn baie spesiale tyd in sy lewe.

“My kinderjare was vir my spesiaal omdat ek ouers gehad het wat vir my lief was. My ouers het geskei toe ek nog jonk was, so my pa was nie daar nie. Maar my ma het weer getrou en ek het in ʼn huis grootgeword met twee mense wat baie lief is vir my en wat omgee vir my.

“Ek het ʼn lekker tyd gehad. Die herinneringe wat ek van my kinderjare het, is dié van rugby speel, kaalvoet oor die gras hardloop, Sondagmiddagetes en swempartytjies – ʼn regte Suid-Afrikaanse manier van grootword. En dit was vir my baie lekker.”

Elvis probeer nou om sy eie kinders ook so groot te maak, sodat hulle ook kan ervaar wat hý geken het.

“Kinders verander heeltyd, en hulle word blootgestel aan ander goed as toe ek ʼn kind was, maar kinders is mos maar net kinders. Hulle hou óók van swem en hulle hou óók van trampolien spring. Ek geniet dit om hulle te sien grootword daarmee,” sê Elvis.

Elvis het vir die “Soos bloed”-sanger, Theuns Jordaan, gevra om die liedjie saam met hom te sing. Hy meen daar is nie baie liedjies wat hulle daartoe leen dat twee mans dit saam kan sing nie, maar dié een werk goed. Toe hy die liedjie vir Jordaan stuur, het hy dadelik ingestem.

“Ag, Theuns is ʼn lekker ou. Ons het lekker saamgewerk. Ek het hom leer ken toe ek agt jaar gelede Idols gewen het. Ek het met hom kontak gemaak toe ek ʼn album begin bymekaarsit, en so het ons vriende geraak,” het Elvis gesê.

Elvis Blue toe hy klein was (Foto: Facebook)

In “Jou huis” se musiekvideo kan daar ook kleintydfoto’s van Jordaan en Elvis gesien word.

Elvis sê hy hoop dat die liedjie mense aanraak en hulle opnuut laat besef dat ʼn stukkie van jouself altyd bly in die land of dorp waar jy grootgeword het, maak nie saak waar jy op die oomblik is nie.

“Ek verbeel my ek sit eendag saam met my kinders op ʼn lughawe en hulle gaan iewers waar ek nie gaan wees nie. En dan wil ek hê my kinders moet ook onthou dat ʼn deel van hulle sal bly waar hulle grootgeword het.”

Dan voeg hy by: “Maar dit is ook belangrik om te weet dat die lewe ʼn oop boek is en dit is joune, jy kan gaan in die lewe waar jy wil. Mense moet gelukkig wees waar hulle ook al in die lewe is.”

Elvis vertel sy gunstelingherinnering van sy ouerhuis is dat hy na sy ma se klavierspel kon luister terwyl hy aan die slaap raak.

“My ma was vir ʼn lang tyd ʼn enkelouer. En dit was chaos in die aande as al vier kinders gebad en in die bed gesit moes word. Ek onthou as die huis begin stil raak, dan sal ek hoor hoe sy af na die onderkant van die huis gaan en begin klavier speel. Dit is dan ʼn tyd wat sy net vir haarself het, op haar eie. Ek sou baie aande van my lewe so aan die slaap raak, en dit is vir my ʼn baie mooi herinnering.”

“Jou huis” is beskikbaar op iTunes en Joox en in musiekvideo’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet piet ·

Jan en Steve is die twee sangers wat nog nooit vervelige liedjies gehad het nie hou so aan julle is tops.

Pieter ·

Regtig Koos ? Was n rukkie terug by Steve se Country Konsert in Brakpan. Wat n` uitstekende geleentheid. Steve kan gerus meer konsert hou. Dink Loftus sal vol wees as hy daar wil optree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.