Luister: Flooze wil skitter en skyn met jongste album

Die Flooze van Witbank, die alterego van die sangeres en aktrise Sorina Erasmus, se jongste album, Die Bliengmasjien, het onlangs die klankgolwe getref en dié splinternuwe album beloof om die voete te laat jeuk en dansvloere aan die brand te kry.

Die album bevat nege snitte, vertel sy in egte Flooze-styl in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ek dra die liedjie “VIP” op aan my aanhangers wat al vir 11 jaar my loopbaan ondersteun. Ek is ook mal oor die liedjie “Ninja”, want ek sing oor Mr. Miyagi van The Karate Kid en die kinders geniet dit vreeslik.”

Dit is vir Flooze belangrik dat luisteraars van alle ouderdomme haar musiek kan geniet en kan deel in die pret. “Van dié met die melktande tot dié met die winkeltande kan ontspan met die musiek op Die Bliengmasjien.

“Daar is soveel negatiwiteit en haat daar buite wat ʼn mens mismoedig en depressief maak en wat jou vreugde in die lewe steel. Met ʼn klein bietjie, ʼn klein ou pleistertjie van humor op ʼn siel, sê ek altyd dis goed. Solank jy lag in die dag.”

Sy vertel dit was ʼn wonderlike ervaring om saam met Dirk van der Westhuizen aan die danstreffer “Die Tennis Tune” te werk. “Ons het gesien mense kry miltsteek deur net na Wimbledon op die televisie te kyk, toe besluit ons om ʼn liedjie te skryf wat die mense aktief gaan hou. Dirk is so ʼn nederige ou en ons werk nou juis weer saam aan ʼn Desember-sokkietreffer.”

Die Flooze het baie lof vir die vervaardigers van die album. “Die Snyman-broers, Christo en Kobus, en Nic Stevens, het gewerk aan die snitte “Brille en Pille” en “Voortrekker Flooze”. Nog iemand aan wie ek erkenning moet gee, is Ferdinand Skeed, wat ook “Die Tennis Tune” en “Die Bliengmasjien” vervaardig het. Hy is briljant. Wanneer iemand nederig is en hy bly nederig… ek sê altyd: ‘Hê jou kop in die wolke, maar hou jou voete op die grond.’”

“Al wat ek vir jou wil sê met Die Bliengmasjien is sparkle, sparkle, maak nie saak wie of wat jy is nie. Ons almal het die potensiaal om te skitter. Solank jy en God gelukkig is met wie en wat jy is, my tjomma, dan is jy hotter as botter.”

Die Bliengmasjien is op alle digitale platforms en by groot musiekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

NieSnaaksNie ·

Fiemies, want dit is NIE snaaks Nie. Dis belaglik. Dis “kômmin”…., alhoewel daar seker een twee mense sal wees wat dit gate uit sal geniet. Dalk is ons net twee wat dit nie geniet nie, maar jy is reg, daar is niks snaaks daaraan nie. Amper nes kyknet se komedies

JJ ·

Dit is werklik nie iets wat snaaks is nie, ek val beslis buite haar “teikenmark”. Ek kyk eerder hoe verf droog word. Om te dink sy het n professionele graad!

LH ·

Sterkte Flooze! Ek het in die week weer na n foto van my oorlede mammie saam met jou, gekyk. Ek wonder soms of mense weet HOEVEEL liefde en tyd jy vir oumense gee? Jy was absoluut n ster vir haar!

Stefan ·

“Tennis-tune” is waarskynlik die swakste musiek video ooit

andre ·

jy en leon schuster dink mos alle suid afrikaners is common en plat vloers

Langeraad ·

Ek beste peel my nie as ‘comin’ nie maar ek het nog nooit soveel gelag soos by Flooze se ‘show’ nie. Sy het ongelooflik talent. Ek daag julle uit om n show v haar te gaan kyk, en nee ek is nie n vriendin v haar nie, en nee ek kry geen finansiele voordeel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.