Luister: Franja se tweede album tref soos ʼn hittegolf

Die sangeres Franja du Plessis het lankal uit haar ma, die gewilde Afrikaanse popster Juanita du Plessis, se skaduwee beweeg. Met haar tweede en splinternuwe album, Hittegolf, bewys sy dat sy waarlik ʼn kunstenares uit eie reg is.

Haar debuutalbum, My Verhaal, wat in 2016 uitgereik is, het binne slegs vier maande goue status bereik met ʼn verkope van meer as 15 000. Du Plessis (24) vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media sy hoop Hittegolf sal dieselfde paadjie op die treffersparades stap.

Hittegolf is ʼn anderste tipe album wat meer volwasse is as my vorige een. Vir my is hy persoonlik beter as my eerste een, maar ek wag maar om te kyk wat die mense van hom dink,” vertel sy beskeie.

“In dié stadium kan mense nie ʼn gunsteling kies op die nuwe album nie, wat dit moeilik maak om te weet watter liedjie om volgende as ʼn enkelsnit uit te reik. Dit is ook ʼn goeie ding, want ek dink dit beteken hulle hou hopelik dan van alles.”

Volgens Du Plessis probeer sy ʼn positiewe lig in die lewe uitstraal en wil sy graag hê haar musiek moet dit weerkaats. Sy meen egter daar is iets vir almal op die album.

“Daar is natuurlik liedjies ook wat gaan oor gebroke verhoudings en dinge wat meer met die hart sal praat, soos kommunikasie in verhoudings. Daar is ʼn liedjie met die naam ‘Somer’ wat gaan oor die atmosfeer wanneer ʼn mens met vakansie gaan. ‘Lag tot jy huil’ gaan daaroor dat ek voel soms moet ons die lewe bietjie minder ernstig opvat en net lag en dans asof niemand kyk nie.”

Franja op die stel van 'Lag tot jy huil'. (Foto: Facebook/Franja du Plessis)

Franja op die stel van ‘Lag tot jy huil’. (Foto: Facebook/Franja du Plessis)

Net soos met haar vorige album is al 12 snitte op Hittegolf uit haar eie pen. “Ek hoor dikwels ʼn melodie, byvoorbeeld in die kar, dan sal ek dit vinnig opneem. Dan moet ek later weer uitmaak wat ek alles gesing het, want dit het so geraas om my,” verklap sy oor haar skryfproses.

“Partykeer word ek wakker deur die nag met ʼn melodie in my kop en neem dit op. As ek net in die ateljee gaan sit met my kitaar kom dit ook baie makliker. Wat die lirieke betref, is ek meestal alleen en dan sit ek my kop in die spasie om die liedjies te kan skryf.”

‘Lag tot jy huil’ is die eerste enkelsnit van die nuwe album wat op radiostasies te hore is, en ʼn musiekvideo vir dié lekkerluisterliedjie is ook reeds vrygestel.

“Ons het lank kopgekrap om ʼn konsep vir die video te kry wat sal pas by die musiek en die liriek. Ons het na ʼn wit spasie gesoek wat na ʼn wetenskaplike se laboratorium lyk en ek vertolk die rol van die wetenskaplike. Ek meng ʼn konkoksie bymekaar wat die depressiewe mense in die laboratorium dadelik laat beter voel en na hul gelukkige plek neem. Op die einde dans ons almal net saam.”

Hittegolf is op alle digitale platforms asook by groot musiekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LB S ·

As jy jou oë toemaak klink sy nes haar Ma. Sy is pragtig, en sing net so mooi, sal ver kom.

Mariana ·

Sy is pragtig met haar eie persoonlikheid. Klink ook bietjie soos Juanita. Net die beste vir haar vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.