Luister: Geen Trompie vir dié Saarkie-bende

Adèle Fouché, Lila Botha en Mjon van Blommestein (Foto: Maroela Media)

Die bekende vroue-rockgroep Saarkie het al ʼn paar keer nuwe lede verwelkom, maar een besluit bly staan: ʼn Man sal nie in dié groep toegelaat word nie.

Saarkie is bekend vir liedjies soos “Langpad”, “Vir altyd” en “Dullstroom” en het onlangs ook hul jongste snit, “Suidwes-Afrika”, in hul album Queen van die Toorbos uitgereik.

Die drie lede van die groep, Adèle Fouché, Lila Botha en Mjön van Blommestein, sê daar het al mans saam met hulle gesing, maar dat hulle mans nooit sal oorweeg as lede van Saarkie nie.

“Ons is Saarkie, nie Saarkie en Trompie nie,” skerts Botha. “Dit gaan maar oor die pakkie wat Saarkie is. Daar is baie goeie mansmusikante, maar as ons mans toelaat, gaan ons weer aan die naam moet begin bou;  die naam gaan oor die girls,” sê Fouché.

Van Blommestein sê sy het al eenkeer gekyk hoe ʼn man saam met Fouché en Botha sing en dat dit vir haar vreemd gevoel het.

“Dit was snaaks om te sien, ná die vier jaar wat ek Saarkie as groep ken, om dan te sien hoe dit lyk as daar ʼn man by is. Dit werk nie so lekker nie,” sê sy.

Botha sê dit is lekker om saam met mans musiek te maak, maar dat hulle nooit amptelik deel van Saarkie sal word nie.

Van Blommestein het eers sowat ʼn jaar gelede deel van Saarkie geword nadat hul vorige lid, Erika Pretorius, liefde in Upington gevind het en daarheen verhuis het.

Saarkie (Foto: Facebook)

“Ek is al vier jaar in die agtergrond betrokke by Saarkie. Ek was betrokke by die albumkuns, musiekvideo’s en skrywe van liedjies.

“Hulle het my gevra om deel te raak omdat ek reeds weet hoe alles werk en altyd saam met hulle in die bus is. Toe moes ek net leer baskitaar speel en nou is dit al ʼn jaar later!” sê sy.

Die nuwe liedjie, “Suidwes-Afrika”, gaan oor die groep se staptog in die Visrivier-skeurvallei.

“Ons doen baie staptogte om inspirasie vir liedjies te kry. Ons was 19 mense wat die Visrivier aangedurf het, maar op die laaste dag het tien mense weggeraak in die canyon. Dit was verskriklik. Almal het gehelp soek en ons moes later ʼn klein vliegtuigie kry om die mense te gaan haal. Op die einde het ons darem almal weer veilig teruggekry,” vertel Fouché.

Die groep is tans besig om te werk aan ʼn musiekvideo vir dié liedjie met sy herinneringe aan die staptog bevat.

Hoewel Saarkie al 14 jaar in die musiekbedryf is, sê die drietal hulle sal nooit moeg raak vir die musiek nie.

“Daar is vir my niks so lekker as om ʼn trom te slaan nie,” sê Botha. “Jou musikaliteit verander oor die jare, so dit raak nooit oud nie. Ons sing al vir jare lank ‘Lisa se klavier’ by konserte, en nóú nog, elke keer as ons dit sing kry ek hoendervleis.”

“Goed rondom die musiek soos die lang ritte en die opstel van die verhoog kan uitputtend raak, maar die musiek self bly altyd lekker,” sê Fouché.

Saarkie is tans besig om voor te berei vir ʼn konserttoer na Australië en Nieu-Seeland. Hulle is ook besig om nuwe musiek te skryf en hoop om teen 2020 ʼn nuwe album uit te bring.

“Suidwes-Afirka” is beskikbaar op platforms soos Spotify en Deezer en ook op YouTube. Vir meer inligting oor Saarkie, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trompie ·

Die voorreg gehad om hulle al re sien optree, drie pragtige meisies.

Pietman ·

Pragtige meisies en baie welkom Mjön ! Ons sien julle binnelort in NZ, kan nie wag nie ! ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.