Luister: Geraldine Scholtz: ‘Ek wil sing met oortuiging’

Geraldine Scholtz is ʼn blondekop sangeres van Witrivier wat die afgelope jaar radioluisteraars en aanhangers gaande gehad het met haar twee enkelsnitte, “Mis” en “Sommer”, en nou is sy terug met ʼn derde enkelsnit getiteld “Iemand”.

Die liedjie is vir Scholtz (18) geskryf deur die gewilde Afrikaanse liedjieskrywer Johan Oberholzer, wat al bekende treffers soos Tarryn Lamb se “Vier woorde”, Monique Steyn se “Die boom” en “Die land”, wat deur Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk en Ruhan du Toit van Touch of Class gesing word.

Scholtz vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media die idee vir “Iemand” het gekom toe sy ʼn lang boodskap vir Oberholzer geskryf het oor watse soort lied sy graag wil hê. “My pa het my baie inspireer. Hy is my rolmodel en ek kyk baie op na hom.”

Dié opkomende popster hou daarvan om nou betrokke te wees by die skryf van haar liedjies, al is dit uit iemand anders se pen. “Ek hou nie daarvan om ʼn liedjie te kry wat nie my gevoelens uitbeeld nie. Ek wil op die verhoog kan stap en elke keer sing met oortuiging. Dit is vir my ʼn passie om te sing wat in my hart is.”

Scholtz kan nie uitgepraat raak oor Oberholzer nie. “Dit voel onwerklik om saam met hom te kan werk. Hy is so ʼn wonderlike persoon en om te kan werk aan ʼn produk en te kan sê ek het die liedjie saam met Johan gedoen, is altyd vir my iets om op trots te wees.”

Sy verklap dat sy nie planne het om ʼn vollengte album uit te bring nie, maar eerder daarop wil fokus om gereeld vars musiek uit te bring.

“Ek kry die vraag oor ʼn vollengte album baie, maar ek dink ek gaan vir eers net enkelsnitte uitreik. Veral op die plek waar ons is met digitale platforms, voel ek dat ek eerder aanhoudend en meer gereeld iets wil uitbring as om elke jaar of twee ʼn album uit te bring.”

Oor die musiekvideo vir “Iemand” is Scholtz baie opgewonde, maar bieg dat dit harde werk is om ʼn video te skiet. “Dit was omtrent ʼn belewenis om die video te maak. Ek het aan die einde van daardie dag meer as nege blase op my voete gehad en my bobene was baie seer, want ek moes oor en oor ʼn toneel skiet waar ek ʼn sonbril van die grond af optel. Ons moes seker maak die skoot is net reg,” lag sy.

“Ek skryf die konsepte vir my video’s self. Ek sit vir maande en dink oor wat ek wil doen – dit gebeur nie net oornag nie. Al is dit net ʼn enkelsnit, is dit vir my belangrik om betrokke te wees by die eindproduk.”

Al dink sy mense glo haar nie dat sy ʼn doodgewone Witrivierse meisie is nie, is sy dit eens dat sy baie plat op die aarde is. “Ek hou baie van boek lees!”

“Iemand” is beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.