Luister: Ghapi meen musikante ‘moet hoop skep vir SA’

Ghapi (Foto: Maroela Media)

Die krulkopsanger en bekende tromspeler wat bekendstaan as Ghapi is al vir langer as tien jaar deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, maar het onlangs weer van die kollig gesteel toe hy deel was van die sterbelaaide ensemble vir “Die Gelofte”.

Ghapi (48) het aan Maroela Media gesê Johan Vorster het hom genader om die Afrikaanse weergawe van “Die Gelofte” saam met Chris Chameleon, Appel, Adam Tas en Juan Boucher te sing. Die musiekvideo van “Die Gelofte” het talle Suid-Afrikaners se hartsnare geroer en al meer as 270 000 trefslae op YouTube gehad.

“As ek kyk na hoe ‘Die Gelofte’ mense raak, weet ek dat daardie idee wat die Here in Johan se kop gesit het, ʼn goeie idee was,” sê Ghapi.

Hy het vertel dat mense hom al op pad winkel toe gestop het om vir hom dankie te sê vir “Die Gelofte”, omdat dit so baie vir hulle beteken het.

“Die liedjie gee mense hoop. In ons land is daar tans ʼn gevoel van desperaatheid, mense raak moedeloos. Ek dink ‘Die Gelofte’ herinner ons weer dat ons net op die Here moet vertrou. Hý is in beheer. ‘Die Gelofte’ sê net: Hou jou oog op die Here. Hy sal ons beskerm, maak nie saak wat nie.”

Ghapi sê die musiekvideo vir dié liedjie is ʼn visuele weerspieëling van dít wat hulle met die lied wou raakvat.

“Die musiekvideo vang die atmosfeer van nostalgie só mooi vas. Dit dra by tot die gevoel en die boodskap wat die liedjie wou oordra. Die musiekvideo raak mense aan, nes die liedjie ook doen. As jy na die liedjie luister, voel jy sommer beter, jy voel gemotiveerd en jy het meer hoop. En dit is fantasties, want dit is ons as musikante se werk – om vir mense hoop te gee.”

Ghapi het ook ʼn ander liedjie op Die Gelofte-CD gesing genaamd “Goliat”. Hierdie liedjie sit die tema van hoop voort.

“Ons almal het maar ʼn Goliat iewers in ons lewe. Of dit nou drank, verslawing of woede is. Die liedjie gaan daaroor om die Dawid in jou wakker te maak om ons Goliat te beveg. Dit is kragtig, maar nes ‘Die Gelofte’ gee dit mens hoop,” het hy gesê.

“Die Gelofte” word vanjaar vir die eerste keer by die In Afrikaans-konsertreeks in Hartenbos opgevoer. Dié konsert vind van 22 tot 29 Desember plaas en kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Jan de Wet, Joe Black, Leah, Snotkop, Kurt Darren en Theuns Jordaan is almal daar te sien.

Die Gelofte kan aanlyn gekoop word, by enige Ghapi-vertoning en by die In Afrikaans-konsertreeks. Volg hier vir Ghapi op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Avokado ·

Baie dankie dat julle jul Godgegewe talente tot Sy eer aanwend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.