Luister: Gian Groen se nuwe album bring hulde aan vriend

gian groen

Gian Groen. (Foto: Facebook)

Sê jy die naam Gian Groen, dan gaan die gedagtes dadelik na die immergewilde liedjie “Vier Seisoenekind”, wat reeds jare gelede deur dié voormalige pluimveeteler en plaasbestuurder gekomponeer is en sedertdien deur ʼn rits Afrikaanse sangers opgeneem en uitgevoer is.

Groen is nou weer terug met ʼn splinternuwe album getiteld #AlsIsNetLekker, wat 10 snitte uit sy eie pen bevat, asook een deur sy goeie vriend, Valiant Swart. Dié album is ook vir ʼn Ghoema-musiektoekenning benoem vir beste alternatiewe album.

Hy vertel daar is ʼn bittersoet storie agter die titel van die album. “#AlsIsNetLekker was die leuse van my baie goeie vriend, Willie Wentzel. Willie het so daarin geglo om die positiewe dinge in die lewe na te streef dat hy vir homself T-hemde laat druk het met hierdie woorde daarop en hy het dit elke dag gedra.”

Wentzel is in 2015 in ʼn motorfietsongeluk dood in die Tankwa-Karoo, waarna Groen die titelsnit van sy jongste album geskryf het. “Daar is twee weergawes van die liedjie op die album. Eers die stadige, hartseer een, want dit is hoe hy oorspronklik geskryf is. Later het die liedjie ʼn viering van iemand geword, so ek het ʼn vinniger weergawe daarvan gedoen en ons noem hom die ‘Karoo mix’.”

Groen verduidelik dié album is nie net ʼn viering van ʼn vriend se lewe nie, maar ook ʼn viering van ʼn volle sirkel wat bereik is deur weer met medemusikante van die eertydse rockgroep Spinnekop saam te werk.

Die onmiskenbare kitaarklanke van Guy Feldman (Gys Hoendervleis) vat Groen sonder twyfel terug na sy wortels. Die musikale mentorskap van Groen se jare lange vriend en baskitaarspeler, Alex Power, dra by tot die klankrykheid. ʼn Nuwe toevoeging tot Groen se groep is Simon Sloane op tromme, terwyl die klawers steeds deur John Mitchell getokkel word.

Groen vertel hy het saam met ʼn paar bekende stemme in die Afrikaanse musiekbedryf op dié album gesing. Herman Kleinhans en Maria Rademan-Viviers van TWEE en Anton Goosen het ʼn draai saam met Groen in die ateljee gemaak.

“Anton is ʼn groot inspirasie vir my, soort van ʼn mentor,” vertel Groen. “Ons is jare lange vriende en hy het op twee van die snitte kom saamsing.”

Groen verduidelik dat hy “monotonie” vervelig vind en daarom is die genres van musiek op dié album so uiteenlopend. “Dit is wat my veral opgewonde maak van hierdie album. Die snitte het steeds dieselfde onderliggende gevoel. Ek is ʼn groot Ben Harper-aanhanger, juis omdat hy so ʼn groot verskeidenheid musiek het, waarvan ek hou.”

Hy het dit in die “musiekkenners” se hande oorgelaat om die eerste enkelsnit van die album af te kies omdat hy van elke liedjie op die album ewe veel hou. “Ons het toe besluit op die snit ‘Nuwe Maan’, maar ek sou tevrede gewees het met enigiets.”

Hy vertel hy het “Nuwe Maan” vir sy vrou geskryf. “Omdat sy lewensveranderende mooi groen oë het, dis maar al.”

#AlsIsNetLekker is by groot musiekhandelaars sowel as digitaal op iTunes beskikbaar. Besoek Groen se Facebook-blad om sy vertonings te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.