Luister: G’nT klink ’n glasie op samesyn

Gino en Thys van G’nT. (Foto: Facebook)

Die Kimberleyse manne Gino Prinsloo en Thys Beukes van G’nT sing al ʼn halwe dekade saam en hulle Afrikaanse musiekloopbaan gaan as’t ware van krag tot krag.

Hulle jongste enkelsnit, “Hard hard kuier”, is pas uitgereik en ʼn splinternuwe album getiteld Nie vanaand nie sal ook eersdaags op die rakke verskyn.

“Hard hard kuier” is ʼn polsende Afrikaanse snit wat saam met Shaun Tait opgeneem is. Die liedjie gaan oor die samesyn en lekker tye wat Afrikaners ervaar wanneer hulle bymekaarkom om te kuier.

Die liedjie is geskryf deur André de Jager en Shaun Tait. “Soms raak ʼn mens keelvol vir die druk wat gepaardgaan met werk en geldsake. Dan is dit noodsaaklik om ʼn kuier te reël en vir ʼn oomblik van jou sorge te vergeet,” verduidelik die duo.

“Hard hard kuier” verskyn saam met snitte soos “Liefde in kwarantyn”, “Skree”, “Eendag is eendag” en “Verlore blaar” in die album wat later vandeesmaand uitgereik word.

Nie vanaand nie is saamgestel met behulp van verskeie talentvolle liedjieskrywers soos Hannah Prinsloo, Vaughan Gardiner, André de Jager, Juan Boucher, Len Muller, Rouxan Cloete en Shaun Tait, en is grotendeels gedurende die inperkingstydperk vervaardig.

“Dit is ʼn album wat uitstekend vervaardig is met melodieë en lirieke wat die luisteraars maklik gaan onthou. Dit het ook ʼn meer volwasse en gevorderde klank as waaraan luisteraars gewoond is en spog met ʼn internasionale aanslag. Dit was vir ons ook belangrik dat die liedjies van so ʼn aard is dat ons hulle regstreeks kan opvoer en dat hulle by ons optredes net so klink soos op die album.”

Die album bevat 12 snitte wat sorgvuldig uitgekies is om die beste eindproduk te verseker, waarvan twee liedjies die duo se eie unieke verwerkings van bekende gunstelinge is.

Beukes het die woorde van “All I wanna do”, oorspronklik deur die rockgroep Heart, aangepas om dit uit ʼn man se oogpunt te sing. Die ander liedjie, “One good year”, is oorspronklik deur die bekende akteur Russell Crowe as die temalied van die rolprent A Good Year gesing.

Die musiekvideo vir “Hard hard kuier” is by Beukes se huis geskiet deur Martin Kotzé van Die Swart Kat Produksies en sluit aan by die tema. Dit vertel die storie van ʼn ou wat ʼn kuier reël om saam met vriende te ontspan.

“Die hoogtepunt van die video is seker waar almal saam in die swembad beland, wat vir die video vol skuim gemaak en in ʼn groot borrelbad verander is. Die video het ʼn baie ligte atmosfeer en die idee was juis om dit nie ernstig te maak nie. Dit moet jou ook laat lus voel vir ʼn lekker kuier of om saam te kuier.”

G’nT. (Foto: Facebook)

Beukes en Prinsloo is albei van Kimberley in die Noord-Kaap afkomstig en het een aand in ʼn kuierplek ontmoet waar Prinsloo opgetree en Beukes die klank behartig het. Hulle het onmiddellik gekliek en gespot dat hulle dalk kragte moet saamsnoer, en so het die idee vir G’nT ontstaan.

Wanneer hulle nie op die verhoog is nie, is hulle elkeen ook suksesvolle sakemanne uit eie reg. Prinsloo het ʼn nasionale eiendomsmaatskappy, MRB Property Valuation, en Beukes het sy eie ateljee en venue, Omidraai, wat regstreekse vermaak aanbied.

Afgesien van sy veelsydige stem is laasgenoemde ook ʼn knap trom- en klavierspeler terwyl Prinsloo ʼn voorliefde vir langspeelplate en kassette het.

“Musiek is ʼn universele taal en kan mense van enige kultuur, kleur en ouderdomsgroep bymekaarbring. Dit is wat ons ook graag met ons eie musiek wil bereik.”

“Hard hard kuier” is op alle digitale platforms beskikbaar. Nie vanaand nie word Vrydag 27 November uitgereik.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.