Luister: Grondkwessie inspirasie vir sanger se nuwe lied

Neil Somers (Foto: Verskaf)

Die sanger Neil Somers het vandag sy allernuutste liedjie, “Bloedgrond”, bekendgestel, wat gaan oor waar Afrikaners vandaan kom, waarheen hulle op pad is en meer spesifiek, oor grondonteiening in Suid-Afrika.

Somers het gesê hy het hierdie liedjie geskryf nadat hy nóg ʼn nuusberig gelees het oor plaasmoorde en grondonteiening, en besluit het hy wil iets daaromtrent doen.

“Dit was uit frustrasie en moedeloosheid wat ek die liedjie geskryf het. Ek is nie ʼn politikus nie, ek kan niks doen aan ons geval in hierdie stadium nie, so dit is net my klein bydrae om mense weer bietjie trots te probeer maak,” het Somers aan Maroela Media gesê.

“Op die ou end gaan grondonteiening nie net die boer wie se plaas gevat word, beïnvloed nie, dit gaan mense oor die hele land negatief beïnvloed omdat daar nie voedselsekerheid gaan wees nie.”

Somers het gesê “Bloedgrond” gaan vir hom daaroor dat Afrikaners moet trots wees op hul identiteit en dat hulle nie moet gaan lê nie.

“Ek dink baie Afrikaners het begin identiteit verloor, begin opgee en dinge net aanvaar soos dit is. Ons word ontneem van ʼn geskiedenis en ons laat dit net toe. Ja, mense praat altyd oor hoe ons gaan saamstaan en wat ons gaan doen, maar ek hoop dat mense met hierdie liedjie weer bietjie trots sal voel en onthou waar ons vandaan kom. Ek wil vir mense sê ons hoef nie te gaan lê nie, ons kan iets aan die situasie doen,” het hy gesê.

“As jy gaan vergeet waarvandaan jy kom en waarvoor jou voorvaders gestaan het, kan jy nie regtig vorentoe beweeg nie, want dit is tog jou bloed en jou beginsels.”

Somers het gesê dat hy op die naam “Bloedgrond” besluit het omdat talle boere bloed gesweet het op hul plase en dit van niks af opgebou het.

“Ek wil hê mense moet trots voel en hoendervleis kry wanneer hulle na die liedjie luister. Hulle moet ʼn passie voel vir wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” het hy gesê.

Kyk hier na die musiekvideo van “Bloedgrond”. Vir meer inligting oor Neil Somers, volg sy Facebook-blad hier.

Neil Somers – Bloedgrond

EKSKLUSIEF: Dapper Media bied aan: Neil Somers: BloedgrondOm hierdie enkelsnit af te laai besoek: https://umgafrica.lnk.to/Bloedgrond

Posted by Dapper Media on Friday, August 24, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.