Luister: HallelujahSA – Ons wil liefde vir lofprysing bevorder, sê sangers


Henri Scott (Foto: Verskaf)

Henri Scott (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners “smag na die teenwoordigheid van God”, sê die sangers Adam Barnard en Henri Scott, en daarom het dié duo die landwye lofprysingsprojek HallelujahSA begin om die boodskap van liefde met behulp van hul musiek te versprei.

Die projek het reeds vyf vertonings agter die rug en nog 52 lê voor.

“Ons besoek deur die loop van die projek meer as 30 dorpe dwarsoor die land waar ons dan saam met jeug- en skoolkore van die omgewing optree by feeste en kerke in die omgewing. Ons wil die impak van lofprysing en die liefde daarvoor by kinders ontwikkel, want ons land is honger vir bediening en die Woord van God. Die mense wil altyd meer hê, maar op ʼn manier wat ontvanklik is, soos met musiek,” het Henri vertel.

Verskeie skoolkore kry die geleentheid om in die verskillende dorpe saam met die sangers op die verhoog te sing. “Dit gaan eintlik daaroor om mense se lewe te verryk en aan te raak. Die mense verwag ʼn koorkonsert, maar loop uit met ʼn geestelike verryking,” het Adam gesê.

Adam Barnard (Foto: Verskaf)

Adam Barnard (Foto: Verskaf)

Die duo het ook onlangs ʼn album met dieselfde titel vrygestel. “Ons wou die album maak sodat mense wat nie die konserte kon bywoon nie, ook na die musiek kan luister. Mense kan uitsien na oorspronklike liedjies soos ‘Op berge staan’, en bekendes soos ‘Nader my God by U’, ‘Jesus groot bo almal’, en ‘Hoe groot is ons God’.”

Hulle vertel hulle het net een doel voor oë: “Ons visie en missie is om mense deur middel van lofprysing aan te moedig om hul hart oop te maak en hul lewe aan God oor te gee.”

Die album is landwyd by musiekwinkels beskikbaar. Meer inligting oor ʼn pelgrimstoer saam met die sangers word ook binnekort bekendgemaak.

Vir meer inligting oor toerdatums of wanneer die duo op ʼn  plek naby jou is, besoek HallelujahSA se webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.