Luister: Hanna Boss sing vir die seer harte


Hanna Boss. Foto: Verskaf

Hanna Boss. Foto: Verskaf

Elke voël sing soos hy gebek is, sê die sanger Hanna Boss, maar háár musiek vertel van régte liefde, weerloosheid en seerkry. Dié sanger het onlangs haar eerste enkelsnit “Daar” uitgereik en beplan om nog groot golwe in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak.

“My musiek gaan nie oor die sprokiesverhaal wat jy so gereeld hoor nie. Ek vertel van die ander kant van die liefde; die weerloosheid en die seer. Ek probeer om ʼn internasionale popklank in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te bewerkstellig. Ek wil ʼn storie saam met my musiek bring waarmee aanhangers kan assosieer,” het sy gesê.

Dié sangeres is egter ook ʼn slimkop. Sy het ʼn graad in siviele ingenieurswese verwerf aan die Universiteit van Pretoria. “Ek wou iets groots gaan studeer. Ek is nie seker hoekom ek daarop besluit het nie. My liefde vir musiek kom al ʼn lang pad saam. Ná skool het ek musiek as loopbaan betwyfel, maar tydens my ingenieurswese-studies het ek besef jy kan nie weghardloop van jou passie nie.”

Hanna sê aanhangers kan binnekort nuwe musiek van haar verwag. “Die volgende enkelsnit is binnekort beskikbaar. Ons is net eers besig om te werk aan die musiekvideo vir “Daar”, maar ek is opgewonde om die nuwe musiek te deel.”

Sy hoop om haar vollengte album in Junie vanjaar in musiekwinkels te hê. “Ons het nog baie werk aan die album, maar dis nou nie meer lank nie. Ons stuur die musiek ook VSA toe vir verdere verwerking, want ek wil die beste moontlike album uitreik,” sê sy.

Aanhangers kan haar volg op Facebook of Twitter vir meer inligting oor optredes en musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.