Luister: Helena Hettema vier 22 jaar in musiekbedryf

helena-hettema-album-coverHelena Hettema word deur aanhangers beskryf as ʼn musikale enigma, en haar 13de album, 21 Plus: 2017, doen dié beskrywing gestand.

Dié album, wat uit Engelse en Afrikaanse snitte bestaan, is onlangs uitgereik. “21 Plus: 2017 is ʼn viering van my 22 jaar in die musiekbedryf,” vertel Hettema. “Saam met die album kom ʼn boekie van 24 bladsye en dit bevat ook die lirieke van die liedjies en foto’s van optredes. Ek wil hê die luisteraars moet op ʼn reis deur die jare saam met my gaan en ek dink hulle sal dit geniet om deur die boekie te blaai.”

Die album bevat 23 snitte met splinternuwe verwerkings en opnames van bekende liedjies asook nuwe werke uit haar pen.

Volgens Hettema was dit baie moeilik om te besluit wat om in die album in te sluit. “Daar was liedjies wat ek gevoel het ʼn bietjie verouder het. Van 1995 af toe my debuutalbum, Fool’s Gold, uitgereik is tot nou het my musiek verander,” vertel sy.

“Ek het vir David Jooste gekry, wat aan my albums Divided Heart en Rooiwynliefde gewerk het, om vir ʼn paar van die liedjies ʼn nuwe baadjie te gee. Die snitte het nou ʼn moderner klank,” sê Hettema.

Sy het ook vyf nuwe snitte vir die album geskryf. Sy vertel een van dié snitte wat vir haar uitstaan is “Silly-cyber tango dans”, ʼn liedjie wat sy geskryf het oor die hedendaagse kuberwêreld waarin ons onsself bevind.

“Dit is ʼn uitputtende wêreld en geneig om ons in te sluk. Alles het vinniger geword, maar nie noodwendig meer effektief nie,” sê sy. “Daar is groot eensaamheid in die kuberruim – al het jy 5 000 vriende op Facebook, is dit nie ware pelle nie. Dit is ʼn tong-in-die-kies-liedjie.”

Sy vertel sy het saam met die Ghoema-bekroonde klassieke trio Con Gracia aan dié snit gewerk, asook aan die meer bekende snitte “Dance Me to the End of Love” van Leonard Cohen en “If We Only Have Love” van Jacques Brel.

“Ek het ʼn liedjie geskryf vir my pianis, André Wessels, wat oorlede is in 2015. Dit is ʼn toonsetting van ʼn gedig deur Annie Flint getiteld “Strength of the Day”. Ek het dit spesiaal aan hom opgedra, want hy was só lank deel van my lewe.”

Hettema sê die hele album is opgedra aan haar pa, die Springbok-fietsryer Jan Hettema, wat einde Junie 2016 tydens ʼn kleinhoewe-aanval doodgeskiet is in die ouderdom van 83. “Ek moes seker eintlik vir hom ʼn Hollandse liedjie geskryf het, maar ek het ʼn gedig gesien met die titel “Do not Stand at my Grave and Weep” en die ander naam daarvan is “A Thousand Winds that Blow”, en dit het net reg gevoel. Die gedig is al in 1938 geskryf deur Mary Elizabeth Fry. Dit is vir my ʼn baie spesiale snit,” vertel sy.

“Daar is ʼn goue draad met ʼn tema van die dood deur die album, want dit is die plek waar ek was toe ek die album saamgestel het,” sê Hettema. “En nog steeds ʼn bietjie is.”

Hettema sê sy glo mense wat nie voorheen aanhangers van haar musiek was nie, sal wel kan aanklank vind by die nuwe album. “’n Liedjie soos “Streets of London” is ʼn ikoniese lekker-luister-liedjie wat patos het. Daar is gelukkig ʼn hele paar vrolike liedjies ook in die album. “Mio Cuore New York” is en Engels en Italiaans en “Meisie wat wag” en “Skadudans” is maklik om na te luister.”

“Ek wou ʼn album maak waarna ʼn mens oor en oor kan luister,” sê sy. “’n Album wat nie aan tyd gebonde is nie.”

21 Plus: 2017 is by alle groot musiekhandelaars en aanlyn beskikbaar. Besoek Helena Hettema se Facebook-blad of webwerf vir meer inligting oor vertonings.

Kyk hier na die video vir “Skadudans”. Laai die video af as dit sukkel om te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mien ·

Een van my gunstelinge. Het sommer heelwat van haar musiek. Net jammer ‘n mens hoor so min van haar op radiostasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.