Luister: Helmut Lotti weer eersdaags in SA te sien

Helmut Lotti. (Foto: Facebook)

Helmut Lotti. (Foto: Facebook)

Helmut Lotti, die bekroonde Belgiese tenoor en liedjieskrywer, bekoor al bykans 25 jaar musiekliefhebbers van oor die hele wêreld en sy jongste album, getiteld The Comeback Album, is onlangs in Suid-Afrika uitgereik.

Die album is saam met ʼn gelyknamige DVD vrygestel, wat voor ʼn gehoor in Hamburg in Duitsland opgeneem is. Die album bevat 18 snitte en hy sing van sy grootste treffers soos “Out of Africa” en “Santa Lucia” en daar is ook ʼn paar unieke verwerkings van uiters gewilde liedjies soos “Bridge over Troubled Water”, “You’ll Never Walk Alone” en “Hallelujah”. Hy en die Argentyns-Italiaanse sanger Semino Rossi sing ook ʼn duet van die klassieke Meksikaanse lied, “Solamente Una Vez”.

Lotti word tydens dié kenmerkende, energieke uitvoering begelei deur die Golden-simfonieorkes, wat beslis nuwe hoogtes bereik met die produksie van ʼn verskeidenheid liedjies.

Lotti, wat al meer as 13 miljoen albums verkoop en wêreldwyd goue- en platinumstatusalbums uitgereik het, se treffers is in 13 tale oor 23 albums opgeneem.

Helmut Lotti. (Foto: Facebook)

Helmut Lotti. (Foto: Facebook)

“Die tema van die album is meestal geloof, hoop en liefde,” vertel Lotti in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media. “Ek het self die repertoire vir die album gekies, want ek wou al die liedjies kies waarvan ek hou as ek voel ek het vertroosting of ondersteuning nodig. Ek het ook ʼn hele paar ballades gekies.”

Die minnesanger het ook verklap dat hy besoek aflê aan Suid-Afrika op 21 Maart volgende jaar, waar hy saam met ʼn filharmoniese orkes by die Sun Arena Times Square in Menlyn in Pretoria sal optree. Lotti is nog altyd ʼn groot liefhebber van Suid-Afrika en reis gereeld hierheen.

“Ek sê altyd vir mense: wat so mooi is van Suid-Afrika, is die feit dat daar baie verskillende kulture saam in een land woon. Suid-Afrika het ook wilde diere, pragtige strande en wynroetes. Suid-Afrika het boonop ʼn ordentlike infrastruktuur – dit het alles, dis ʼn fantastiese land.”

Hy is ook lief vir Afrikaans. “Aangesien ek Belgies is en van Ghent afkomstig is, waar die meeste inwoners Vlaams praat, kan ek Afrikaans verstaan as jy dit baie stadig praat,” skerts hy.

The Comeback Album en DVD is landwyd beskikbaar by alle groot musiekhandelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kallie Grafie ·

Laas toe ek gehoor het, was Lotti in die moeilikheid, omdat hy sekere lande se volkslied opneem en registreer onder sy naam – hy kry dus tantieme elke keer wat daardie land se volkslied speel. Hy het ons volkslied ondermeer onder sy naam geregistreer. Weet Maroela dalk of dit so is?

Cora Simpson ·

Wie gee regtig om. Sy musiek en liedere is ongelooflik mooi

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.