Luister: Helpende Hand kry eie liedjie

Riaan Benadé (Foto: Willem Botha)

Helpende Hand is die amptelike liefdadigheidvennoot van die bekende musiekkonsertreeks Afrikaans is Groot (AiG), en daarom het dié organisasie pas sy eie liedjie, “Helpende Hande”, bekendgestel wat mense aanmoedig om te help waar hulle kan.

Riaan Benadé, wat “Helpende hande” geskryf het en sing, sê hy het baie aan ʼn Bybelse verhaal gedink toe hy dit geskryf het.

“Daar is ʼn Bybelse trek reg deur die liedjie. Ek het gegaan spesifiek vir die storie waar Moses sy arms opgehou het om die oorlogsveld aan die Israeliete oor te gee. Maar hy kon nie sy arms self so lank ophou nie, want hy moes vir dae so gestaan het, daarom het Aaron en Hir sy arms kom ophou.”

Moses moes sy arms ophou sodat hulle die oorlog kon wen en hy was die enigste een wat dit kon doen. Benadé sê dit was vir hom opvallend, omdat dit nie Aaron en Hir was wat verseker het dat hulle die oorlog wen nie, maar eerder Moses, al het hulle sy arms opgehou.

“Vir my is dit soortgelyk aan wat Helpende Hand probeer doen, hulle het hul arms op en hulle probeer help in die stryd teen honger en armoede, maar hulle kan dit nie alleen doen nie.”

“Hulle word moeg, partykeer word hulle nie genoeg gehelp nie, partykeer het hulle nie genoeg hulpbronne nie. Ek voel dit is veel beter as mense saamstaan, deur ʼn organisasie te help wat klaar die werk doen, wat klaar weet hoe die situasie werk,” sê hy.

Die koor van die liedjie lui: “Hou die arms hoog en klap die hande saam. Skree: ‘Ek is genoeg! Vir wie kan ek staan?’” En dít, vertel Benadé, is die hele hart agter die liedjie: As jy voel jy het genoeg moet jy gee waar jy kan.

“Ek hoop dat as mense die liedjie hoor, dit hulle sal aanmoedig om te help, dit hoef nie noodwendig deur Helpende Hand te wees nie, dit strek verder as dit. As jy kan help in jou kerk, politiek, skole, universiteite, waar jy ook al is. As jy voel jy het genoeg en jy kan iets gee, hetsy tyd, vermoëns of wat ook al, gee.”

Benadé sê sy doel met “Helpende hande” was om mense se harte oop te maak om te help, al is dit ʼn klein bietjie. Hy hou daarvan om liedjies te skryf wat gereedskap in mense se hande sit, en wat mense hoop gee.

“Ek wou nie weer iets skryf wat net sê dat ons moet help nie, ek wou sê daar is reeds mense wat help, so wat kan ons doen om hulle by te staan?”

“Helpende hande” sal ook in die Afrikaans is Groot Volume 12– album verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê-maar-net ·

Riaan, gaan lees asb weer Exodus 17:8-16. Dit was Aaron en Hur wat Moses se arms opgehou het. Moses het later op ‘n klip gesit en nie heeldag gestaan nie. Dit was die HERE wat aan die Israeliete die oorwinning gegee het en nie Moses nie en die stryd het slegs “tot sononder” geduur en nie dae lank soos jy sê nie. Riaan, dis belangrik om die Bybel reg te lees en te vertolk. Ons sien uit na die liedjie self.

Tina ·

Sê-maar-net, wat maak dit nou saak wat die presiese storie was, dit is die gedagte agter die storie wat tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.