Luister: Hennie en sy kitaarkêrels maak Kalahari-skoffelmusiek

hennie de bruyn en die kitaarkerelsDie musikant Hennie de Bruyn het homself nou al bewys as ʼn “kitaarkêrel” wat nie net ʼn kitaar kan slaan nie, maar ook weet hoe om deur middel van kitaarmusiek die voete vas aan die dansbaan te hou.

De Bruyn en sy boeremusiekgroep Die Kitaarkêrels se splinternuwe album, Kalahari Skoffeltyd, is onlangs vrygestel en dié album is reeds benoem vir ʼn gesogte Ghoema-toekenning in die kategorie vir beste boere- of tradisionele musiek-album.

“Ons skryf elke keer met ʼn nuwe album in en elke keer is ons gelukkig genoeg om ʼn Ghoema-benoeming te kry,” vertel De Bruyn opgewonde. “Ons hou duim vas vir vanjaar se geleentheid.”

De Bruyn was jare lank ʼn ambagsman, maar het reeds as tienjarige die kitaar bemeester. “Ek het eintlik in 1964 by oom Jan Brits en Chris Oberholzer leer musiek maak. Ek het altyd hul plate gekoop en daarop my kitaarspel beoefen.”

Veertig jaar later het De Bruyn maats bygekry wat ook ʼn kitaar kan slaan, en saam is die Kitaarkêrels gewilder as ooit. Met meer as 22 albums en drie DVD’s op hul kerfstok, wéét hierdie manne hoe om gehore aan die skoffel te kry.

Hy vertel die titel vir die album het by hulle opgekom toe hulle in Upington opgetree het tydens die Landbouskou. “Ons het daarna vir ʼn week op Olifantshoek tuisgegaan. Die album was so te sê klaar en ons het die Kalahari so gesit en kyk en ʼn paar name gegee, en daar het Kalahari Skoffeltyd ontstaan.”

Die album bestaan uit 17 snitte waarvan die meeste uit Hennie se pen is, maar die album verras ook met ʼn paar bekendes soos “Ver in die ou Kalahari”. Die waaghalsiges wat die romantiek van ʼn tango verstaan, kan dalk verlore raak in die “Nuwejaarstango” wat gespeel word presies soos oorlede oom Jan Brits dit gedoen het.

De Bruyn vertel sy vrou, Dottie, is skerp met name uitdink en het hom gehelp om met die titels vir die snitte soos “Rooisand”, “Deur die duine” en “Kalahari Klong Kwêla”, op die album vorendag te kom. “Sy luister net die liedjie, dan sal sy sê hierdie naam of daardie naam pas by die liedjie.”

Die bekende boeremusiekvervaardiger Ernie Bates was weer aan die stuur van die album en De Bruyn is vol lof vir hom. “Dit is ʼn fees om by hom op te neem. Hy is so spontaan en gee baie idees én leiding oor die tipe klank wat hy wil hê. Sy produksie is fantasties en hy is baie professioneel. Alles wat hy doen, doen hy uit sy hart uit.”

Kalahari Skoffeltyd is by alle groot musiekhandelaars beskikbaar. Volg Hennie en sy kitaarkêrels op hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

swanna ·

Lekker man lekker hierdie ouens skuus manne kan lekker mooi musiek maak. My voete juk van die lekker kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.