Luister: Hennie Jacobs is ‘Lyflam’ oor nuwe album

Hennie-CoverHennie Jacobs wat elke weeksaand op die kassie te sien is as Diederik in die SABC 2-sepie 7de Laan, is ook ʼn kranige musikant. Sy jongste album, Lyflam, is onlangs bekendgestel.

“Ek het in 2014 laas ʼn album uitgebring met die titel Dit is die land,” vertel Hennie. “Ek het in die laaste paar jaar omtrent 40 liedjies geskryf, waarvan 11 dit toe gemaak het tot in dié album.” Die twaalfde snit is ʼn opname van die immergewilde liedjie “Jolene”, saam met Hildegardt Silkiewicz, beter bekend as Bonita in 7de Laan.

“Die 11 liedjies wat dit so ver as Lyflam gemaak het, is die enigste liedjies waarvan ek gehou het,” lag Hennie. “Die res het ek almal uitgevee, want ek het nie gedink dit is goed genoeg nie.”

Hennie vertel die liedjie “Lyflam” het ontstaan by 7de Laan toe hy vir Christo Davids se karakter, Errol, ʼn liedjie moes skryf. “Dit gaan oor die gevoel wat jy kry wanneer jy die eerste keer verlief raak op iemand,” sê hy. “Jy kan aan niks anders dink nie en jy wil net by dié persoon wees. Lyf lam, hande klam,” lag hy.

Die album word deur Hennie beskryf as “ʼn aangename album met mensgerigte liedjies en mooi, onopgesmukte vertolkings”.

“Die lewe is moeilik genoeg. Ek wou iets uitbring wat lig is, waarna hopelik almal kan luister. Al hou jy net van twee of drie liedjies is dit vir my oukei,” sê hy. “Ek het probeer om diverse liedjies te skryf waarby verskillende mense kan aanklank vind.”

Met Kobie Koen as uitvoerende vervaardiger, Tertius Human as regisseur en die gesogte musikante Denny Lalouette, Mauritz Lotz en Juan Oosthuizen, Wilmie Lourens, Brendan Ross, en Hannes van der Walt is die luisteraar verseker van ʼn stewige produksie.

Hennie sê musiek het voor toneelspel in sy lewe gekom. “Ek geniet dit nog altyd om op die verhoog te wees.”

Lyflam is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars en digitaal op iTunes. Besoek Hennie se Facebook-blad vir meer besonderhede oor komende optredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leeuj ·

Teen R9.99 n liedjie op iTunes…what a ripoff, dalk as hul my R9.99 betaal.

thea ·

sal ook nie die cd koop nie, die mannetje kan glad nie sing nie

thea ·

sal glad nie die cd koop nie, die mannetjie kan glad nie sing nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.