Luister: Henrico Coetzer oor musiek: dit moet práát, roer

Henrico Coetzer (Foto: Facebook)

Henrico Coetzer (Foto: Facebook)

Hy hou nie van tierlantyntjies nie, is heeltemal onopgesmuk en het een doel voor oë, vertel die Afrikaanse sanger Henrico Coetzer: Hy wil musiek maak wat mense roer. O, en natuurlik ʼn teater stampvol maak.

Die sanger het onlangs sy tweede album, Dis wie ek is, vrygestel, en meen dié album is juis dít: ʼn blik op sy wêreld en musiek wat beloof om aan die hartsnare te pluk.

“Ek werk al ʼn paar jaar aan die album en wou graag my eie storie daarop vertel. Ek sê altyd as aanhangers die album van voor na agter luister, sal hulle weet wie ek is. Dit het ook lank geneem om die album te vervaardig omdat ek gehaltemusiek wou maak, iets wat mense kan waardeer. Musiek moet práát, en dit moet mense beweeg,” het hy gesê.

Bekende sangers en liedjieskrywers soos onder andere Joshua na die Reën en Bobby van Jaarsveld het vir die album geskryf. Die sanger het ook self ʼn liedjie vir die album voltooi.

“My eerste enkelsnit is geskryf deur Joshua na die Reën. Ek het destyds ʼn konsert vir Bobby geopen, en Joshua het in daardie tyd vir hom klavier gespeel. Joshua het agterna na my gekom en gesê hy het ʼn liedjie geskryf, maar gaan hom nie self sing nie, en dat hy hom graag vir my wil gee. Tot vandag toe bly dit ʼn wonderlike voorreg.”

Dit was so amper of die album het die finale stempel sonder ʼn oorspronklike Henrico-liedjie gekry. “My album was al klaar en op pad vervaardigers toe, toe ek sê daar kort nog iets. Ek het toe die liedjie “Dis wie ek is” geskryf, en op die ou end het dit waarskynlik die album gestuur in die rigting waar dit vandag is,” het hy bygevoeg.

Die sanger was ook al op die verhoog saam met Corlea Botha en het al op verskeie verhoë by feeste opgetree.

Wat is sy grootste droom? “Ek staan vir liefde en om eg aan jouself te wees. Ek wil nie voorgee nie, en ek wil hê mense moet my ken vir wie ek is. Buiten dit wil ek die voorreg gegun word om musiek te maak wat mense waardeer.”

Henrico het vroeër vanjaar die musiekvideo vir die “Soos reën”-enkelsnit op die televisieprogram Jukebox bekendgestel.

Hy beplan ook om in 2017 met ʼn reeks konserte vir dié album af te skop.

Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.