[Luister] Henry van Dyk vertel oor kontemporêre album

Henry van Dyk. Foto: Facebook via Henry van Dyk

Henry van Dyk. Foto: Facebook via Henry van Dyk

Die sanger en liedjieskrywer Henry van Dyk, wat onlangs sy splinternuwe album bekendgestel het, sê toe hy die eerste keer sy hand aan liedjieskryf gewaag en dié liedjie in die ateljee opgeneem het, het hy geweet hy hoort nêrens anders as in die musiekbedryf nie.

Henry se vollengte-album, Sommer So, is onlangs landwyd bekendgestel en dié sanger hoop om ʼn groot indruk op klassieke en algemene luisteraars te maak. “Ek is baie opgewonde oor die album. Ek het vier van die liedjies self geskryf en vir die ander liedjies op die album het ek bekende liedjieskrywers soos Arri Opperman en Johan Oberholzer nader gehark. Die album is ʼn goeie vermenging van ou gunstelinge en nuwe liedjies.”

Die sanger sê skryf is vir hom iets natuurliks. Die vier liedjies uit sy pen op die album is in minder as ʼn week voltooi. “Die skryfproses was redelik maklik gewees. Ek begin gewoonlik met ʼn tema voor ek wegval. Ek dink dis belangrik om te skryf oor goed waarmee ’n mens jou kan vereenselwig en oor dinge wat vir jou belangrik is. As ek eers ʼn tema het, is die volgende stap ʼn melodie en die woorde. In dié geval was dit baie maklik omdat ek geweet het wat ek wil vertel.”

Henry sê die album het ʼn volwasse kontemporêre klank met ʼn ligte klassieke ondertoon. “Ek het klassieke musiekonderrig as kind gehad. Ek het egter besef ’n mens moet jou net wyer trek en ’n bietjie meer algemeen te werk gaan om ʼn groter gehoor te bereik. Ek dink ek het daardie mikpunt op die album bereik.”

Hy sê om ʼn unieke klank te skep beteken om jouself te wees in jou musiek. “Ek probeer om ʼn eiesoortige klank te skep deur niemand na te boots nie. Ek wil myself in my musiek weergee. Wanneer jy getrou is aan jouself, is jou styl anders as enigiets anders daar buite. Ek het egter deur die jare verskillende invloede van baie sangers gehad.”

Sommer So is nog nie in winkels beskikbaar nie, maar aanhangers kan dit op sy webwerf bestel.
Besoek sy Facebook-blad of Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.