[Luister] Herman Kleinhans sprei sy vlerke met eerste solo-album

Herman Kleinhans, wat ook deel is van die musiekgroep TWEE, het onlangs sy eerste solo-album genaamd Kamer 4 vrygestel, en bereik só ʼn meer diverse gehoor as vantevore.

“Ek wil sommer van die begin af sê my solo-album beteken nie dat TWEE nou verby is nie. Dit is glad nie die geval nie. Die liedjies wat ek skryf, is divers, en al die liedjies pas nie by die klank van TWEE nie. Kamer 4 is ʼn baie rustige en organiese album, dit is bietjie meer akoesties. Dis al die liedjies wat ek gevoel het nie noodwendig gepas is vir TWEE nie, maar tog het ek baie daarvan gehou,” het Kleinhans gesê.

Liedjies soos “Kamer 4”, “Vir Megan” en “Amsterdam” word geïnspireer deur dinge wat met Kleinhans in sy lewe gebeur, en hy hoop dat mense die storie daarin kan sien.

“Ek wil hê mense moet meegevoel hê met die liedjies en dat die stories hulle intrek sodat hulle ʼn prentjie daarvan kan skep. Die gevoel wat musiek meebring, is natuurlik oop vir interpretasie en eie aan jouself.”

Hoewel Kamer 4 Herman se eerste solo-album is, is dit nie vir hom vreemd om alleen te sing nie.

“Ek tree dikwels alleen op, so dit is iets wat reeds deel is van my program. Ek dink dit was nou ʼn gepaste tyd om ʼn solo-album op te neem. Tydens die opname van Twee se album was ek ook baie alleen in die ateljee, en ek is mal daaroor.”

“As ek in die ateljee is, is dit net ek en my kitaar. Dan begin ʼn mens die liedjie bou, dit is soos om te skilder. Wanneer jy dan dink die liedjie is gereed, los jy hom. Die ervaring was baie uniek omdat ek die album regstreeks opgeneem het. Dit is ʼn anderste ervaring, en een wat ek graag weer sal wil meemaak.”

Oor die toekoms en ʼn vooruitsig oor nóg ʼn solo-album, sê Kleinhans dit lyk belowend.

“Ek wil definitief weer ʼn solo-album maak. Dan sal ek werk aan liedjies skryf vir TWEE én my solo-album. Ek het ook onlangs begin isiXhosa-lesse neem, en sal baie graag volgende jaar ʼn isiXhosa-enkelsnit wil opneem; dit is natuurlik weer ʼn lekker uitdaging vir my.”

Volg Herman se Facebookblad vir optredes en ander inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

Ek praat onder korreksie, maar ek dink “Vir Megan” was sy eerste solo-album. Dit het baie van dieselfde liedjies op as hierdie een. Nietemin, uitstekend! Ek wens daar was meer kunstenare soos hy, ekt daai eerste album seker nou al 100x gestroom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.