Luister: In Karlien en Bobby se skoene

Karlien en Bobby van Jaarsveld saam op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Karlien en Bobby van Jaarsveld saam op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Eers het Karlien en Bobby van Jaarsveld VIA-kykers op reis in ander mense se skoene geneem om die harde werklikheid van minderbevoorregte mense se lewens te beleef.

Nou is hulle terug met hulle eie verhoogproduksie In ons skoene, en hierdie keer kan aanhangers ʼn dieper blik in die lewe van dié twee uiters gewilde Afrikaanse sangers kry.

Karlien vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat aanhangers al vir jare vra vir ʼn realiteitsprogram oor haar en haar broer se lewens. Tog het hulle nooit gemaklik gevoel met dié idee nie, maar hulle wou ook hul harte met hul aanhangers deel.

“Die program In jou skoene het uitgekom en daarna het nóg meer mense gesê hulle wonder hoe is my en Bobby se lewens,” vertel Karlien. “Ons het toe met die idee van ʼn regstreekse produksie opgekom, waar ons vir mense meer kan vertel oor hoe ons lewens regtig is en waar ons vandaan kom.”

Volgens Karlien is dit veral hul grootwordjare waaroor mense nuuskierig is en waaroor die twee die meeste staaltjies deel. “Mense daar buite het ʼn vreeslike wanpersepsie van ons lewens en ek dink dit lyk vir hulle baie keer baie glamorous van buite. Ons deel ʼn bietjie meer van die realiteit, sodat hulle kan verstaan waar ons vandaan kom.”

Die twee sangers sing ook hul eie liedjies in die produksie, maar sing ook ʼn paar weergawes van liedjies waarvoor hulle lief is. “Ons het liedjies gekies wat inpas by ons storie.”

Volgens Bobby laat hy homself by tye deur die vertoning en die gehoor lei oor hoeveel hy bereid is om te deel. “As mense uit die vertoning stap het hulle ʼn hele nuwe persepsie van ons en dis gewoonlik die teenoorgestelde van wat hulle gedink het. Ons het maar ʼn rowwe lewe gehad en dit was by tye bietjie moeilik. Ons wil net hê mense moet ons harte raaksien.”

Die sibbe is dit eens dat die tyd nou reg is om ʼn vertoning saam aan te pak. “Mense vra ons al jare lank om saam iets te doen op die verhoog en ons wou dit nog altyd doen, maar die tyd was nooit reg nie,” sê Bobby. “Ons het net gedink dit is nou, ná In jou skoene, gepas om ons eie produksie te doen.”

Bobby en Karlien van Jaarsveld (Foto: Instagram)

Daar is, net soos met die eerste produksie wat in Maart vanjaar by Emporers Palace plaasgevind het, ʼn liefdadigheidselement aan die vertoning gekoppel. “Ons vra dat mense wat die vertoning bywoon vir ons van hulle ou skoene sal saambring.”

Karlien verduidelik dat dié skoene deur Hanna Grobler se liefdadigheidsorganisasie, Hanna Charity, aan minderbevoorregte mense uitgedeel word. “Hanna het kontak met ongelooflik baie minderbevoorregte mense, so sy weet waar die behoeftes is en sy neem die skoene van ons hande af en deel dit vir dié mense uit.”

Bobby en Karlien stem saam dat die eerste vertoning van In ons skoene seepglad verloop het. “Die terugvoer wat ons gekry het, was iets besonders,” vertel Bobby.

“Meeste mense het gesê hulle wou nie hê dat die vertoning moet ophou nie. Dit is vir ons ʼn goeie teken dat mense daarvan gehou het. Ons waardeer dit baie. Ons deel ons persoonlike lewens met mense en ons is regtig persoonlike mense, maak nie saak wat die media van ons maak nie. Ons deel graag ons harte op die verhoog.”

Die produksie is hier te sien:

11 Augustus: Kunstekaap in Kaapstad. Kaartjies vir die vertoning is beskikbaar by Computicket.

27 September: Polokwane. Kaartjies vir die vertoning is beskikbaar by die Ocean Basket in die Savannah Mall.

3 Oktober: Rockwood-teater in Pretoria. Kaartjies is beskikbaar by die teater. Skakel 012 368 1555.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alicia ·

Ek sal nooit verstaan hoekom mense tyd en energie mors om negatiewe kommentaar te gee nie?????? Ai ai ai. Voorspoed julle twee – al kan ek dalk nie julle vertonings bywoon nie, ek het ‘n paar skoene om te gee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.