Luister: Invictus-liedjieskrywer droom groot met jongste album

Ernie BatesDie sanger en vervaardiger Ernie Bates is allermins ’n onbekende in die Afrikaanse musiekbedryf en sy splinternuwe album, Droom, is onlangs bekendgestel.

Die album is veelsydig, met beide Afrikaanse treffers uit Ernie se pen, asook verwerkings van bekende Engelse treffers soos Bruce Springsteen se “Tougher than the Rest”. “Ja, die album is iets van alles,” vertel Ernie.

“Ek kom uit ’n rock-agtergrond en ek hou van klassieke rock en country-musiek. Dis wat ek verkies om te sing en dis ook die goed wat so nou en dan by my vertonings insluip. Ek is ’n kitaarspeler en ek het my eie orkes.”

Hy vertel sy vorige album, Ek en Jy, wat in 2014 vrygestel is, het spesifiek die Afrikaanse mark geteiken. “Met hierdie album het ek besluit ek wil van die Engelse goed ook inbring, aangesien ek dink mense my al beter leer ken het teen hierdie tyd. Daar is natuurlik ’n sokkie-treffer of twee ook op die album – almal weet ek sing die diep goed, so dis nou bietjie tyd dat hulle kan dans ook,” lag hy.

“As jy nie droom nie, gaan jy nêrens kom nie,” sê Ernie beslis oor die titel van die album. “Vandat ek klein was droom ek daarvan om te sing en musiek te maak en die wêreld te sien. Jou drome verander ook soos wat jy aangaan in die lewe.”

Ernie is nie ’n nuwe gesig in die bedryf nie. Aanhangers van die acapella-groep Overtone sal hom herken as een van die manne van dié groep, wat opslae gemaak het in 2009 toe Clint Eastwood en sy vrou, Dina, die groep in Kaapstad ontdek het. Ernie het saam met die groep in die Eastwoods se huis in die VSA gewoon terwyl hy op Eastwood se versoek agt liedjies vervaardig het vir die Hollywood-fliek Invictus.

Hy het Droom ook self vervaardig. “Ek het in die laat 90’s al met ateljee-opnames begin. Die gogga het my sommer vroeg al gebyt. Intussen het ek my eie platemaatskappy begin. Ek is baie trots daarop, want elke noot wat gespeel word op die album is wat ek self in my eie ateljee gedoen het,” sê hy.

“Op die einde van die dag is Droom ’n beter produk as enige van my vorige goed.”

Droom is beskikbaar by alle vooraanstaande musiekhandelaars landswyd. Besoek Ernie se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Uvonka ·

Tien uit tien vir jou Ernie! Jou musiek is my tipe musiek en dan doen jy dit nog so goed ook!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.