Luister: Irene-Louise bemoedig Evasgeslag met popmusiek

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie)

Die boodskap in Irene-Louise van Wyk se nuwe popliedjie getiteld “Vrou” is op die man af en reguit: Die Evasgeslag se hande staan vir hoegenaamd niks verkeerd nie.

Die borrelende sangeres, wat bekend is vir snitte soos “Hou jou hande van my lyf af” en “Ek voel soos oee”, en gereeld aanhangers aanmoedig om die beste weergawe van hulself te wees, se jongste uitreiking is geen uitsondering nie.

“Vrou” beklemtoon die innerlike krag van die vrouegeslag en is geskryf deur Roux Cloete. Liezel Pieters, wat bekend is vir haar kragtige stem, sing saam met Van Wyk op dié “anthem”, soos sy daarna verwys.

“Ek het vir Roux gesê ek soek ʼn liedjie wat vroue sterk en bemagtig laat voel, soos ‘Run the world’ van Beyoncé. Hy het met ‘Vrou’ vorendag gekom en ek is só trots op hierdie liedjie,” sê Van Wyk in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

“Ek het sterk gevoel toe ek dit in die ateljee gesing het en ek hoop ander vroue ervaar dit ook wanneer hulle daarna luister.”

Sy sê dit is ʼn groot eer om saam met Pieters te werk. “Ek was op soek na ʼn kunstenares met ʼn sterk stem wat saam met my ʼn liedjie wil opneem. Ek het vir Liezel genader en gevra of sy sal verkies om ʼn doodgewone Afrikaanse snit op te neem, en of sy lus is vir ʼn egte Irene-Louise-snit. Sy het die tweede opsie gekies en toe gaan ons mal met die idee.”

Volgens Van Wyk is dit vir haar belangrik om ʼn positiewe boodskap met haar musiek uit te dra, veral in ʼn tydperk waarin vroue hulself voortdurend met ander op sosiale media vergelyk.

‘n Skermgreep uit Irene-Louise van Wyk en Liezel Pieters se musiekvideo vir “Vrou”.

“Dit is ʼn baie vreemde tyd waarin ons lewe wat sosiale media betref. Aan die een kant is dit ʼn wonderlike platform vir bemarking en bevordering van sekere maatskaplike kwessies, maar aan die ander kant is dit ongelooflik sleg vir mense se geestesgesondheid – myne ook.”

Sy voeg by dat sy uit ervaring praat en bieg dat sy soms ʼn blaaskans moet neem van sosiale media om weer haar kop te kan oplig.

“Daar is so ʼn ongelooflik hoë standaard van wat vroue vandag moet wees en hoe hulle moet lyk. Daar is verskriklik baie negatiwiteit op sosiale media. Ek wil graag positiwiteit uitstraal en selfs al dink jy ʼn liedjie is belaglik – as dit ʼn glimlag op jou gesig geplaas het, is dit al wat ek wil hê.”

Die musiekvideo vir “Vrou” is geskiet by die Zwartkops-renbaan in Centurion. Van Wyk sê die gure Pretoriase weer het net-net saamgespeel om die perfekte skote vir die video te kry.

“Ons het ʼn gedeelte van die pad gekies en op en af geloop; ons voete was so seer en ons almal het blase gehad. Dit het daardie week verskriklik baie gereën in Pretoria en ons was baie senuweeagtig toe dit kliphard begin reën het. Ons het begin dink ons gaan nie kan skiet nie, maar die Here het ons só geseën met ʼn reënboog en wolke wat baie mooi saamgespeel het. Dit was ongelooflik.”

Van Wyk benadruk hoe trots sy op die eindproduk van ʼn lang dag voor die kameras is. “Ek wou ʼn video hê wat die sterk betekenis van die liedjie uitbeeld en wat wys dat vroue tot enigiets in staat is, al is dit onkonvensioneel.”

  • “Vrou” is op alle digitale platforms beskikbaar.
  • Luister na die volledige onderhoud met Irene-Louise van Wyk boaan hierdie berig.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Vrou”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.