Luister: Irene-Louise sing dansvloere, treffersparades aan die brand

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie)

Irene-Louise van Wyk is reeds jare lank ʼn bekende naam in die Afrikaanse musiekbedryf en het die een ná die ander treffersnit soos “Hou jou hande van my lyf af”, “Vergeet van my” en “Sjampanje” uitgereik.

Tog kon nog nie een van dié snitte kers vashou by “Tekkies brand” wat vanjaar soos ʼn veldbrand op al wat ʼn treffersparade, sosialemediaplatform en kuierplekke versprei het nie.

Nie net het dié enkelsnit, uit die pen van Roux Cloete, vir etlike weke bo-aan die Maroela Media se Top-20 gekuier nie, maar was dit ook weke lank in die topposisie op treffersparades soos Apple Music en iTunes se Afrikaanse trefferslys.

“Ek was weggeblaas oor die terugvoer wat ‘Tekkies brand’ gekry het. Jy as kunstenaar kan dol wees oor ʼn liedjie, maar dit gebeur dikwels dat jy nie die energie terug ontvang wat jy verwag omdat jy self so dol is daaroor nie. Om ʼn liedjie uit te reik wat 120% daardie energie terug ontvang, duisende TikTok-video’s te ontvang en te sien hoe dit die treffersparades klim, is die absolute jackpot vir ʼn kunstenaar,” vertel Irene-Louise in die Maroela Media-ateljee.

“Ek het nou al baie vertonings in my lewe gedoen en gesien hoe mense my musiek geniet, maar as ek begin met die lirieke ‘maak jou veters vas’ gaan mense absoluut mal. Hulle skree en haal fone uit en spring en sing – dit is die beste gevoel wat ek nie sommer kan beskryf nie.”

Irene-Louise bieg dat sy aanvanklik senuweeagtig was om dié liedjie uit te reik, aangesien dit soveel anders klink as haar vorige musiek.

“Ek het gedink my ondersteuners gaan kwaad wees vir my omdat ek ʼn ander rigting met my klank ingeslaan het en ek was baie angstig daaroor. Toe ek in die ateljee die liedjie opneem het ek self ʼn gevoel vir die liedjie begin kry en toe ek die finale liedjie in my motor luister het ek van kop tot tone hoendervleis gekry. Dit was ʼn baie anderste gevoel as my vorige musiek. Iets binne my het gesê: This might just be it.”

Irene-Louise skoffel op die stel van ‘Tekkies brand’ se musiekvideo. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Die liedjie het op elke radiostasie waar hy te hoor is die nommer 1-posisie bereik. “Dit is baie moeilik om in Afrikaans daardie posisie te bereik en die slim mense in die bedryf wat weet, sê dit is amper ongehoord, veral vir ʼn vrouekunstenaar. Ek onthou my pa het my laat die aand gebel en gesê ek is nommer een op Apple en dit was nog altyd my grootste droom om ʼn topliedjie in die land te hê. Ek is ongelooflik dankbaar.”

Die musiekvideo vir “Tekkies brand” het ook al byna 1,3 miljoen kykbeurte op YouTube. “Ek en my beste vriend Ruan het saam gesokkie vir die video en dit was soveel pret. Ons wou mense laat weet hulle moet sokkie op dié liedjie en ek dink ons het dit reggekry.”

Sy het ook pas ʼn splinternuwe duet met die Afrikaanse sanger Jay, “My volgende fout”, uitgereik en dié snit is ook besig om die trefferlere te klim tot bo. Dié liedjie is geskryf deur Johan Oberholzer.

“Arnold Coleske en Paulo Azevedo van Coleske Artists het my genooi na hulle ateljee om dié liedjie vir my te speel en te vra of ek belang stel om dit saam met Jay te sing. My pa en bestuurder, Louis van Wyk, het langs my gesit en ek het halfpad deur die liedjie telepatiese seine na hom probeer om stuur om asseblief tog net ‘ja’ te sê!” lag sy.

“Die kind binne my wat destyds mal was oor die sanggroep Eden, waarvan Jay uiteraard deel was, het gegil.”

Sy sê sy ontvang talle boodskappe van mense wat sê hulle hoop sy en Jay neem nog musiek saam op aangesien hulle stemme so goed by mekaar pas.

“Die liedjie is bietjie aan die stoute kant en tong-in-die-kies, waaroor ek dol is. Dit was soveel pret om die liedjie te sing en ek is so opgewonde vir mense om dit te hoor. Mense kan baie lekker daarop sokkie.”

Irene-Louise het ook ʼn splinternuwe jenewer wat vanaf Vrydag 19 November op die rakke gaan wees. (Foto: Charl van der Merwe)

Op Vrydag 12 November stel Irene-Louise nóg ʼn enkelsnit vry getiteld “Kuierleier” en belowe dat dié snit die partytjie aan die gang gaan hou.

“Die liedjie maak jou lus om te gaan sokkie en kuier. Die woord is ‘party starter’ in Engels en daar is altyd op ʼn partytjie iemand wat die res aanmoedig om harder te kuier en langer uit te bly. Dít is die mense wat jy kuierleiers noem.”

Die musiekvideo is pas uitgereik. “Ons het jong en ou mense gebruik vir die video. Net omdat jy ouer is beteken dit nie jy kan nie meer so lekker kuier nie. Die mense in die video het in die bloedige son hulle alles gegee en dit was so ʼn lekker video om te skiet.”

Irene-Louise het ook ʼn splinternuwe jenewer wat vanaf Vrydag 19 November op die rakke gaan wees. Daar is ʼn beperkte getal bottels beskikbaar. Hou haar Facebook– en Instagram-bladsye dop vir meer inligting.

“Tekkies brand”, “My volgende fout” en “Kuierleier” is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud met Irene-Louise van Wyk.

Kyk hier na die video vir “Kuierleier”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.