Luister: Irene-Louise stel enkelsnit bekend – dag voor baba se geboorte!

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Maroela Media)

Vir weke lank het talle bekendes sosialemediagebruikers laat kopkrap met kriptiese video’s waarin hulle die uitdrukking “iziiit” gebruik.

Eers was dit ʼn raaisel waaroor dié vreemde video’s gaan wat op almal se tydlyn verskyn. Later is die aap uit die mou gelaat – dit is deel van die afwagting vir Irene-Louise van Wyk se nuwe enkelsnit.

En vandag is die liedjie “Iziiit” uiteindelik hier! Tong-in-die-kies, pret en onmiskenbaar Irene-Louise.

“Ek wou net weer ʼn lekker fun liedjie uitgebring het. Dit is die eerste keer sedert ‘Hou jou hande van my lyf af’ wat ek só ʼn tipe liedjie uitbring. Dit is ʼn lekker funky, cheeky liedjie,” sê sy.

“Die liedjie is geskryf deur Roux Cloete wat ook ‘Hou jou hande van my lyf af’ en ‘Sjampanje’ geskryf het. En ek voel ‘Iziiit’ som eintlik my persoonlikheid baie mooi op, want ek is eintlik ʼn baie sarkastiese mens. Dit is net ʼn prettige liedjie, dit sit jou net in ʼn goeie bui om dit te luister. En dit is presies wat ek wil doen. Ek wil mense net laat lag en laat goed voel.”

Irene-Louise en haar man, Nicolas du Preez, op hul troudag. (Foto. Verskaf

En die pret het sommer al voor “Iziiit” se bekendstelling begin met prettige video’s wat bekendes op sosiale media geplaas het waarin hulle “iziiit” op komiese en unieke maniere sê. “Ek wou baie graag ʼn bietjie opwinding skep vir hierdie liedjie, omdat dit die eerste keer in ʼn baie lang tyd is wat ek so iets doen. Ek is baie trots op die manier wat ons dit gedoen het. Ek wou net mense aan die praat kry oor die liedjie, en ek dink ons het dit baie goed reggekry!”

Hoewel “Iziiit” ʼn baie ligte liedjie is, kan ʼn mens nie help om Irene-Louise se ongelooflike stem onmiddellik op te merk nie. As die dogter van die sangeres wyle Irene van Wyk en Louis van Wyk, kunstenaarsbestuurder en stigter van Music Profile Management, is musiek in Irene-Louise se bloed.

“Ek dink baie mense was verras deur ʼn liedjie soos ‘Stukkende ruite’ wat ʼn baie diep en emosiebelaaide liedjie is. Ek dink baie mense was nie bewus dat ek so iets kan sing of het nie geweet dat ek enigsins belangstel om sulke liedjies te sing nie,” sê sy. “Dit is vir my lekker om al twee te kan doen en vir mense te wys ek kan nie net in een genre gedruk word nie. Ek kan iets van alles doen, en dit is ook vir my ʼn lekker uitdaging om verskillende tipes musiek te maak.”

Irene-Louise en haar man, Nicolas du Preez, se eersteling sal na verwagting môre gebore word, maar Irene-Louise sê sy beplan nie dat ma-wees haar lewe handomkeer verander nie. “Ek kan nie wag om vir Kelsey in my arms te hou nie, maar ek is nog steeds baie opgewonde vir die toekoms. Ek gaan vir eers rustig met haar wees, maar ek wil haar betrek by alles in my lewe. Ek wil hê sy moet deel wees van alles en ek wil nog steeds optree en musiek uitbring en my drome najaag.”

Irene-Louise en haar man, Nicolas du Preez, se eersteling sal na verwagting môre gebore word. (Foto: Verskaf)

Sy verklap haar swangerskap was nie juis maklik nie, en sy was baie siek in hierdie tyd. “Niemand vertel jou oor die moeilike dele van swangerskap nie, almal laat dit altyd lyk asof dit wonderlik is. En dit ís wonderlik! Dit is net ʼn wonderwerk om hierdie mensie hier binne jou te voel beweeg, om na ʼn skerm te kyk en te sien wat in jou liggaam aangaan en dit is ʼn persoon wat jy sien. Dit is so ongelooflik.

“Maar niemand het my vertel van die moeilike deel van swangerskap en hoe sleg jy voel nie. Ek het nie ʼn baie lekker swangerskap gehad nie, ek was baie siek en ek het deur baie persoonlike trauma gegaan deur die hele ding. So ek is baie opgewonde om haar net uiteindelik te ontmoet. Ek en my man is so opgewonde dat ons ʼn dogtertjie kry. Ons het so gebid vir haar.”

Irene-Louise vertel die naam Kelsey het so moeiteloos gekom dat dit net gevoel het of hul dogtertjie se naam altyd bedoel was om Kelsey te wees. Die naam is nie ʼn familienaam of ʼn samevoeging van enige familiename nie, maar bloot net ʼn naam waaroor sy en Nicolas albei mal was.

ʼn Lewensveranderende (en dalk effens oorweldigende!) nuwe hoofstuk vir hul lewe, maar een wat Irene-Louise met haar kenmerkende vonk en ywer aanpak. Nou sal ons net moet wag en kyk of klein Kelsey haar ma se liefde vir musiek gaan erf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Annelize ·

Kelsey is ‘n baie mooi naam, maar ter nagedagtenis aan Ouma Louise, dink ek
Kelsey-Louise sou ‘n baie mooi gebaar gewees het.

Minette ·

Annelize – Ouma se naam was Irene….. En baba se volle naam is “Kelsey Irene” Irene-Louise se PA is Louis van Wyk, die musiek promotor….

Essa ·

Irene-Louise, jy is pragtig en straal soos net ‘n nuwe mamma kan. Geluk, vrede en voorspoed vir jou en Nicolas en Kelsey toegewens.

Facts ·

Ek sien MM is ook deel van die Fat Acceptance Movement. Gooi bline oog oor ongesondheid. Facts Over Feelings.

Sandra Pretorius ·

Wat ‘n fantastiese liedjie. As sy nie ‘n Grammy hiervoor wen nie eet ek my hoed op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.