Luister: Izaan oor liefde, humor en teleurstelling


Izaan (Foto: Maroela Media)

Izaan (Foto: Maroela Media)

Die sangeres Izaan, sê haar tweede en selfgetitelde album vertel “egte stories” oor die liefde, teleurstellings en humor.

Sy het in die Maroela Media-ateljee kom kuier, en meer vertel oor dié album en die projekte waaraan sy tans werk.

Hoewel sy reeds Izaan in November 2015 vrygestel het, maak van haar enkelsnitte deesdae opslae op verskeie radiostasies se treffersparades.

Dit is veral die enkelsnit, “Ligtoring”, wat op verskeie radiostasies te hoor is. “Die liedjie gaan oor hoe ʼn ouer vir sy kind as ʼn lig daar is en oor die verantwoordelikheid van ouers. Ek dink dit raak baie mense se harte, en daarom vaar dit so goed,” het sy gesê.

Die musiekvideo vir die liedjie is ook onlangs vrygestel, en het al op kykNET gespeel. “Toe ons besluit het om die musiekvideo te doen, het ons gewik en weeg tussen al die liedjies wat reeds vrygestel is. Ons het toe op “Ligtoring” besluit omdat ons so ʼn oulike idee daarvoor gekry het. Ons het ‘egte’ video’s van gesinne en die spesiale oomblikke van gesinwees geneem, en dit as die video saamgestel.”

Die sangeres sê sy sal altyd “die plat-op-die-aarde-plaasmeisie” in haar hart bly. “Ek wil hê mense moet my leer ken as iemand prettig – ʼn gemaklike mens. Ek wil hê mense moet my egtheid sien en my musiek wat my lewe weerspieël, saam met my deel.”

Dit is juis daarom dat alledaagse dinge haar ook inspireer. “Ek skryf oor liefde, teleurstelling, en natuurlik is humor vir my baie belangrik. Vir my gaan dit ook baie oor hoop, en wat op ʼn spesifieke oomblik in my lewe aangaan.”

Izaan is tans besig met die Dogter van die Koning-projek. “Dit gaan oor die opheffing van vroue en jong meisies. Dit is ʼn sogenaamde banket aan die tafel van die Koning, wat met groot bederf en humor die fases van ʼn vrou se lewe vier. Ek deel ook my musiek en ons kuier lekker saam,” het sy bygevoeg.

Kaartjies vir dié banket kan bespreek word deur Lisl Lindeboom te bel by 072 127 2361 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Besoek Izaan se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.