Luister: Jack Parow oor ‘liefdesbrief vir Suid-Afrika’

jack parow 2

Jack Parow. (Foto: Allister Christie)

Jack Parow, die Afrikaanse kletsrymer met die kenmerkende lang pet, het ʼn lang pad gekom sedert die bekendstelling van sy eerste album in 2009.

Nou is hy terug op die klankgolwe met sy jongste album, Afrika 4 Beginners, én hy kan eersdaags op die kassie gesien word as die nuwe aanbieder van die gewilde VIA-program, Die Kliek.

Parow, wat by die huis geken word as Zander Tyler, verwys na Afrika 4 Beginners as ʼn “liefdesbrief aan Suid-Afrika”. “Alles wat ek doen is in ʼn mate ʼn liefdesbrief vir Suid-Afrika. Ek is baie trots daarop om Suid-Afrikaans te wees en ek is baie lief vir die land. Daar is baie verwysings in my lirieke na Afrika.”

Hy vertel sy nuutste enkelsnit, “My koninkryk”, gaan oor al die “lekker goed wat ons in Suid-Afrika het”. “Van bunny chows tot verkeersligte wat ons robotte noem,” lag hy.

Die komediant Schalk Bezuidenhout, die musikant Koos Kombuis en die liedjieskrywer Hunter Kennedy het hulle stemme aan die album verleen. Johnny de Ridder, wat saam met Kennedy in die befaamde rockgroep Fokofpolisiekar speel, het die album saam met die opkomende musikant Loki Rothman vervaardig.

“Ek wil dit nie net sê nie, maar dit voel vir my of hierdie van my beste werk is,” sê Parow. “Die album is ʼn hele pakket, van die omslagontwerp tot die foto’s wat deur André Badenhorst geneem is. Ons sit baie moeite in die CD self, sodat dit vir mense die moeite werd is om dit te koop eerder as om die album deur die internet af te laai.”

Daar is 18 snitte op die album en volgens Parow het elke liedjie iets wat spesiaal is. “‘Johnny is nie dood nie’ is ongelooflik, want ek het dit saam met Koos Kombuis gedoen. Ek doen ook ʼn snit ‘Siem Salabiem’ saam met HHP, na wie ek nog altyd opkyk omdat hy so ʼn ongelooflike kunstenaar is. Dan is daar natuurlik ook ‘Jantjie Volstruis’ wat ek saam met die Happy Boys van die Kaapse Klopse opgeneem het. Ek is mal daaroor!”

Parow staan ook eersdaags Schalk Bezuidenhout se skoene vol as die nuwe aanbieder van die program Die Kliek. Hy vertel dat hy baie pret op die stel gehad het. “Die mense saam met wie ek gewerk het was fantasties. Dit raak amper soos ʼn klein familie op stel en almal het my só ondersteun. Ek glo dit het lekker uitgekom, maar ek sal nou wag om te hoor wat die kykers dink.”

Benewens sy nuwe rol as aanbieder, is Parow ook besig met ʼn paar besigheidsinisiatiewe. Hy het onlangs sy eie “Parow Brandy”, ʼn handgemaakte brandewyn, bekend gestel en het ook ʼn reeks lyfplanke met sy naam op. “Ek kry baie mense wat my nader om projekte saam aan te pak, maar ek is baie versigtig om nie alles te doen nie. Ek sal nie my naam op iets sit as ek nie weet dit is ʼn goeie produk nie.”

jack parow 3

(Foto: Robin Looy)

Parow onderneem in Maart weer ʼn toer na Europa, waar hy ʼn groot aanhangersbasis het. “Ek toer al vir 10 jaar Europa toe en die terugvoer daar is ongelooflik. Ek het onlangs my eie fees, “Parow Fest”, in Nederland gekry en dit het uitverkoop. Ons beplan om die fees elke tweede jaar aan te bied. Die doel is dan om ander Suid-Afrikaanse en Afrikaanse kunstenaars te vertoon om die deur oop te maak vir meer Suid-Afrikaanse kunstenaars om in Nederland en ander dele van Europa te kan toer.”

Hy vertel hy het al in plekke soos Dubai, Londen, Rusland en die VSA opgetree. “Baie Suid-Afrikaners handhaaf ʼn “myne, myne, myne-houding”, maar alles wat ek kry, wil ek met soveel as moontlik ander Suid-Afrikaanse kunstenaars deel.”

Parow vertel dat buitelanders sy musiek geniet, alhoewel hulle nie noodwendig Afrikaans verstaan nie. “Hulle vat dit vir wat dit is en verwag om dit nie noodwendig te verstaan nie. Holland en België verstaan uiteraard die meeste daarvan en hulle is gaande daaroor dat hulle soort van kan verstaan. Die ander ouens kom net vir die vibe. Ek sê altyd al kan jy nie my musiek verstaan nie, moet jy dit nog steeds kan voel, en dit is wat ek altyd probeer regkry.”

“Ek is trots daarop om Afrikaans te wees en ek is trots daarop dat ek reg oor die wêreld kan gaan en die taal soveel as moontlik bevorder, en dit in die beste lig te stel wat ek moontlik kan,” sê Parow.

Afrika 4 Beginners is beskikbaar op alle aanlyn en digitale platforms en is ook by alle groot musiekhandelaars te koop.

Gaan na Jack Parow se Facebook-blad vir meer inligting oor opkomende vertonings en toere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.