Luister: Jack Stone ontdek sy Afrikaanse wortels

Jack Stone. (Foto: Verskaf)

Die rocker Jack Stone het ná 14 jaar in die musiekbedryf as Engelse kunstenaar besluit die tyd is uiteindelik ryp om in sy moedertaal, Afrikaans, te skryf en sing.

Hy het in Augustus vanjaar sy eerste Afrikaanse kortalbum, Refleksie, met slegs vier snitte uitgereik. Die album is die eerste deel van ʼn volledige Afrikaanse album wat in gedeeltes uitgereik gaan word oor die volgende ses maande, en fokus op introspeksie, groei, en aanvaarding.

Met die onlangse inperking weens die Covid-19-pandemie en ná maande se alleen worsteling in sy tuisateljee, keer die Kaapse rocker terug na sy erfenis, sê hy.

“Afrikaans is immers my moedertaal, en ek het onlangs ʼn nuwe verbintenis daarmee gevorm, een wat ek nou trots dra. Ek voel die tyd is nou ryp vir sielvolle Afrikaanse musiek en dat ek nou reg is om hierdeur myself ten volle met my luisteraars te deel.

“Aan die einde van die dag is die musiek my eerste doelwit en om my waarheid met my musiek aan my luisteraars oor te dra. Partykeer kan net ʼn woord of sin my inspireer en ander kere ʼn gedagte of melodie. Die liedjies ‘Vraagstuk’, ‘Dagbreek’, ‘Revolusie’ en ‘Onthou jy nog’, het byvoorbeeld hulself gekies in die tyd wat ek my wortels verken het en ek het bloot bloed en sweet bygevoeg.”

Ná die sukses van sy Afrikaanse debuutenkelsnit “Vraagstuk” in April vanjaar, het hy besluit om nog ʼn paar liedjies in Afrikaans aan te durf.

“Ons het besluit om die Engelse album waarmee ek besig was vir eers opsy te skuif en Refleksie op te neem,” vertel Stone in die Maroela Media-ateljee.

Hy is nie iemand wat dag na dag liedjies skryf nie, sê Stone. “Dit kom vanself. Partykeer sal ek ʼn volledige liedjie in my kop hoor voordat ek begin om enige iets neer te skryf. Ek was ʼn bietjie senuweeagtig om in Afrikaans te skryf, want dit is nie net die taal waarin ek skryf wat verander nie – Afrikaans is ʼn hele kultuur op sy eie.”

Volgens Stone is die Afrikaanse musiekbedryf ʼn baie ondersteunende omgewing en het Afrikaanse mense ʼn groot behoefte aan musiek.

“Musiek is iets waaraan Afrikaanse mense baie sterk vasklou en daarom is dit ook ongelooflik om voor ʼn Afrikaanse gehoor op te tree.”

Stone sê hy verkies dat sy musiek nie in ʼn boksie geplaas word nie. Hy het ʼn ingebore passie vir verskeie genres en vind keer op keer sy inspirasie deur ʼn wye verskeidenheid klanke. Op eie bodem inspireer kunstenaars soos Francois van Coke, Ard Matthews en Arno Carstens hom.

Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar- en Die Heuwels Fantasties-faam het saam met Stone die liedjie “Onthou jy nog” geskryf. “Hy is een van die liriek-gode in Afrikaans en dit was net ongelooflik om saam met hom te skryf. Hy is so insiggewend met hoe hy dinge stel. Dit was ʼn eer om saam met hom te werk.”

Hy vertel hy het sy eerste kitaar op die ouderdom van 11 gekry en het op laerskool al in die skoolkoor gesing. “Musiek is maar net nog altyd ʼn groot deel van my lewe. Ek het na skool klankingenieurswese studeer en my eerste band begin. Musiek is wat ek voel ek die beste doen en wat my grootste passie, so ek het dit net nagevolg.”

Refleksie is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Dagbreek”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Dit klink goed en goeie instrumente saam met ‘n goeie stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.