Luister: Jacques Leonard jaag sy musiekdrome na

In Junie verlede jaar het die musikant Jacques Leonard aan Maroela Media vertel van sy groot drome om eksperimentele musiek te maak wat nie in ʼn boksie geplaas kan word nie.

Sy eerste enkelsnit, “Haar hart”, is onlangs onder die Universal Musiek-vaandel uitgereik. Volgens Leonard is dié snit ʼn goeie mengsel tussen verskillende genres soos punk-rock en alternatiewe pop.

“Ek dink dis ʼn nuwe klank in Afrikaans en dit sal interessant wees om te sien wie daardeur geïnspireer word. Ek glo die liedjie het ook ʼn baie internasionale klank.”

Die liedjie is reeds in 2019 geskryf en het ʼn nuwe baadjie gekry toe hy ʼn kontrak by Universal Musiek losgeslaan het.

“Ek het die lirieke geskryf as ʼn moontlike oplossing vir ʼn rusie in ʼn verhouding. Ek onthou dat ek myself verbeel het dat ʼn vriend my raad vra oor hoe hy vir sy meisie kan jammer sê nadat hy verkeerd teenoor haar opgetree het. Toe begin ek skryf: ‘Los ʼn voetspoor by haar deur’ en ek het geskryf oor hoe ek dinge sou probeer reg maak in so ʼn situasie.”

Die musiekvideo vir die liedjie beeld uit hoe jy nie iemand moet verander in ʼn verhouding nie en moet aanvaar vir wie hulle is, verduidelik Leonard.

“Daar is ʼn briefie in die video en dit lees: ‘Maak nie saak wat die wêreld sê nie, jy is jy en jy is perfek’. Dit is basies die konsep van die musiekvideo.”

Iluska Nagy en Tiaan Slabbert speel die hoofrolle in die musiekvideo, wat reeds byna 12 000 kykbeurte op YouTube gekry het sedert dit laat-September uitgereik is.

Op hoërskool het hy homself leer kitaar speel nadat musiekgroepe soos Straatligkinders, Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar sy oë laat blink het.

“Ek wou net so cool wees soos hulle, toe kry ek ʼn tweedehandse kitaar. Ek kon nooit ander mense se musiek speel nie, so ek het my eie musiek gemaak. Dit het my gedwing om myself te leer speel en musiek skryf,” vertel Leonard.

As hy nie musiek skryf nie, lees hy geestelike boeke of speel met sy honde. Daar is ook nog musiek op pad en hy beplan om volgende jaar ʼn album uit te reik.

Volg Jacques Leonard op Facebook of op Instagram.

“Haar hart” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige ateljeeonderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.