Luister: Jak se nuwe album sê iets oor sy lewe en die wêreld

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Net langer as 15 jaar gelede het Jak de Priester en sy vrou, Michelle, tóé nog net sy meisie, op ʼn dag “die wonderlikste nougat” in Groenkloof in Pretoria ontdek. Binne weke sou dit vir hulle ʼn “romantiese tradisie” word om dié nougat te eet tydens ʼn piekniek of voor ʼn fliek.

Maande later, toe Michelle vir ʼn tyd na die buiteland vertrek, het Jak die liedjie “Sally Williams-nougat” vir haar geskryf – deels vir sy seer hart en deels as ʼn geskenk aan haar. Min het hy geweet dat dié liedjie die begin van ʼn loopbaan sou wees wat ná 15 jaar steeds volstoom aan die gang is.

De Priester het onlangs sy negende ateljee-album, 15 jaar, uitgereik. Hy het ook ʼn kinderalbum- en DVD, ’n boek, ’n digbundel en verskeie verhoogproduksies op sy kerfstok.

Hy vertel hy kyk dikwels terug na die skryf van “Sally Williams-nougat” en wonder verbaas hoe een liedjie ʼn mens se lewe só handomkeer kan verander soos wat syne het.

“Dis ongelooflik hoe ʼn liedjie jou lewe kan verander. ‘Sally Williams-nougat’ was vir my ʼn love song. Michelle het daardie nougat ontdek by die Groenkloof-Spar. Wat ʼn liedjie aan my geliefde was, het my lewe en loopbaan vir altyd verander. Nou is dit 15 jaar later – dit na só lang tyd maar tog het die tyd verbygevlieg. Al wat ek kan sê is dat ek dankbaar is vir 15 wonderlike jare,” vertel hy.

15 jaar is nie ʼn samestelling van die sanger se gewildste liedjies nie. Hy sê die album is saamgestel uit slegs oorspronklike liedjies. “Dalk het ek oorweeg om ʼn samestelling van my liedjies oor die jare in die begin te doen, maar ek skryf konstant nuwe materiaal omdat ek konstant nuwe dinge beleef. Daar is dus die heeltyd nuwe stories om te vertel. Om ʼn album uit te bring met ou liedjies het nie vir my sin gemaak nie, dis hoekom slegs werke uit die laaste twee jaar op dié album is. Dis ʼn viering van 15 jaar maar met splinternuwe liedjies. Ek kyk na hierdie album en dan dink ek: ‘O, jinne, hier is dit nou.’ Ek hoop mense geniet dit soos wat hulle tot dusver toe nog het.”

Musikante soos die pianis Charl du Plessis, Steve Hofmeyr en Koos Kombuis het saam met hom aan dié album gewerk. Die album bestaan uit 17 oorspronklike snitte wat deur De Priester geskryf is, buiten vir “Rigtinglose mense” wat hy saam met Kombuis geskryf het. Hy vertel elkeen van dié liedjies is ʼn greep uit sy eie lewe.

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

“Ek hoop dit stel ten toon wat ek oor die laaste 15 jaar geleer het – my vaardighede as sanger én as liedjieskrywer. Die samewerkings op die album lê my ook na aan die hart en dit is vir my baie spesiaal omdat hulle met die hand gekies is.

“Elke keer as ek klaar geskryf het, dan hoop ek die liedjie is nié my laaste een nie. ʼn Mens se gô is amper uit wanneer jy die liedjie klaar geskryf het, omdat jy alles van jouself daarin sit. Deur net die lewe te leef, kom inspirasie oor jou pad. Iets het byvoorbeeld met jou gebeur en jy het nooit gedink jy gaan ʼn liedjie daaroor skryf nie, maar op ʼn dag kom die idee net by jou op. My musiek gaan oor my lewe en die wêreld waarin ek leef. Daar is dus ʼn baie groot mate van waarheid daarin, maar dit vertel ook stories wat voorheen geleef en beleef is. As die inspirasie daar is, kan jy dit nie eenkant skuif nie – jy moet dit benut want dis soos manna van Bo.”

Die album bestaan uit ʼn groot verskeidenheid soorte musiek. Die duet met Steve Hofmeyr, “Soen die reën”, en Dr. Victor, “Reënboog oor Suid-Afrika”, verskil volgens die sanger “ligjare van mekaar”.

Hy sê hoewel hy met dié album geseënd voel oor die pad wat agter hom lê, hoop hy nóg 15 jaar of langer is deur sy ervaring en kennis vir die toekoms geplavei.

“15 jaar gelede het ek anders gedink oor die lewe – en oor liefde en oor die land en oor meeste dinge. Daar lê nog ʼn ver pad vorentoe en ek sien uit daarna. Dit raak so deel van jou lewe om liedjies te skryf en te sing en plekke heen te reis, dat mens dit nie skielik kan stop of prysgee nie. As dit iets is wat deel van jou siel is en wat jy bestem is om te doen, kan jy niks anders doen nie. Ek wil niks anders ooit doen nie; ek wil sing en stories vertel omdat dit my grootste passie is en omdat ek glo êrens, iewers langs die pad, raak jy iemand se hart.”

De Priester beplan om binnekort te toer met dié album. Vir meer inligting oor toerdatums of die sanger besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.