Luister: Jakaranda Liggiefees weer vanjaar aangebied

Die Jakaranda Kinderhuis bied vanjaar sy Liggiefees vir die 9de keer aan. (Foto: Facebook)

Die Jakaranda Kinderhuis bied vanjaar sy Liggiefees vir die 9de keer aan. (Foto: Facebook)

Desember is ʼn maand van vrygewigheid, samesyn en bederf. Families kom saam en almal ontspan ná die rowwe jaar wat verby is. Vir kinderhuiskinders, wat na ʼn liefdevolle normale gesin van hulle eie verlang, bly die lewe egter altyd ʼn uitdaging.

Die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria bied vanjaar sy negende Liggiefees, ten bate van die 220 kinders wat in dié kinderhuis woon, aan.

Gary van Veenhuyzen, bemarker van die kinderhuis, het in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media vertel die projek is aanvanklik van stapel gestuur om aan die kinders in die kinderhuis die Kersboodskap oor te dra.

“Die publiek het egter ál meer na die liggies kom kyk en meer betrokke geraak – dit het die projek laat groei tot waar dit vandag is. Al die huise op die terrein, asook die terrein self, word mooigemaak met liggies. Oral waar ons ʼn gaatjie kry, sit ons ʼn liggie op,” het Van Veenhuyzen gesê.

“Ons is omtrent so 80 personeellede in hierdie stadium en elke liewe een van ons, van die huisouers tot die kinders tot die terreinspan en bemarking en finansies, sit hand by om die liggies op te sit. Ons begin in Oktober die liggies toets en in November sit ons al die liggies op.”

Volgens Van Veenhuyzen is die hoofdoel van die Liggiefees nie net om geld vir die kinders in die kinderhuis in te samel nie, maar om die Kersboodskap na die gemeenskap oor te dra.

“Vanjaar het ons dinge ook so ʼn bietjie verander en is daar tien musiekvertonings wat ons deur die loop van die fees aanbied,” het hy verklap. Musikante soos Dewald Wasserfall, EON, Saarkie, Joshua na die Reën, Tussen Sterre, Heuning, 2nd Life, Ampie en Martin Bester sal tydens die fees te sien wees.

“Ons het ook reeds begin lippe aflek vir die lekker kosstalletjies wat ons vanjaar gaan hê,” het hy bygevoeg. “Daar is iets van alles – hamburgers, worsbroodjies, kerrie en rys, pannekoek, koffie – noem dit en ons het dit. Daar is ook ʼn Kersmark wat nuwe en handgemaakte produkte verkoop, en ʼn treinrit reg rondom die perseel vir kinders en ouer mense wat nie die hele ent kan loop nie.”

Die fees vind van 1 tot 31 Desember plaas en die liggies is elke aand van 18:00 tot 22:00 te sien. Op die aande wat daar vertonings aangebied word, open die hekke reeds om 17:00. Kaartjies kos R30 per persoon en is beskikbaar by die hekke.

Om te sien wanneer jou gunstelingkunstenaars optree, besoek die Jakaranda Kinderhuis se Facebook-blad.

Die kinderhuis is geleë by Talitha Kumistraat 1, Eastlynne, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. die eerste ·

Ondersteun hulle en ook die Dannville Liggiehuis – dis mense wat dit self nie baie breed het (Dannville) en tog hul eie huis en klein tuintjie pragtig opmaak elke jaar en met ‘n oophand mense in hul, meestal arm, omgewing help met kospakkies ens. Asb mense vergeet eenkeer van NOG ‘n sjokolade of NOG ‘n speletjie vir jou eie kinders, en gee vir die wat swaarkry. Ek help hul elke jaar maar ek hoop tog egtig ander mense sal ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.